Tatta Alta!

Written by elsabe. Posted in Community

BRITS POS – BRITS – Die tyd het aangebreek vir ons om te groet, want Alta Terblanche, ‘n geliefde top-bemarker van die Brits Pos-span lê na 20 jaar die tuig neer.

Alta is ‘n plaaskind wat hier in Brits grootgeword het en as jy iets van iemand wil weet, of wie watter diens lewer, dan kan jy net op Alta se knoppie druk.

‘n Hoogtepunt vir Alta in haar loopbaan, is die wonderlike, vriendelike adverteerders met wie sy vir soveel jare ‘n pad geloop het. “Die Britsies is soos familie,” sê Alta “dankie, ek gaan julle regtig mis.

“Dankie aan my kollegas wat die pad saam met my gestap het en ‘n gróót dankie aan mnr. Christo Theron, die beste ‘baas’ ooit vir sy omgee.”

Alta vertel met ‘n vonkel in die oog dat sy haar liefde vir tuinmaak nou behoorlik gaan uitleef. “Ek gaan baie lees en my kleinkinders opspeel.

“Vir manlief Johan wil ek verder ondersteun in sy deeltydse boerdery, ek wil die plaas geniet en sommer net my eie goed doen.”

Vandag, Donderdag, 26 Maart 2020 is haar laaste werksdag, maar ons sê net totsiens en nie vaarwel nie Altatjie, - hoop jy word gepootjie wanneer jy hier by die Brits Pos verby ry, sodat jy ‘n teetjie móét kom drink – alles wat mooi is vir jou en geniet jou aftrede!