Verkeersbeamptes skitter in hulle afwesigheid

Posted in Letters

Redakteur

Hiermee wil ek almal bedank vir hulle flink optrede na my oproep en elkeen wat ingeskakel het na die trompop-botsing op die Thabazimbi-pad verlede Saterdag.

Dankie vir Krappies van die SAPD wat, nadat ek hom geskakel het so vinnig op die toneel was en ‘n arrestasie kon uitvoer van die dronk taxibestuurder wat die toneel wou verlaat na die ongeluk, maar deur omstanders aangekeer is.

 Sterkte en beterskap aan almal wat seergekry het. Dankie vir die ambulansdienste.

Baie dankie ook aan elkeen wat reageer het na die tweede ongeluk agter Toyota.

Vir die verkeersbeamptes wat glad nie by een van die ongelukstonele opgedaag het nie vir ‘n uur en ‘n half nie, dit is pateties.

Ook wil ek vir die beheerkamerpersoneel by die brandweer sê dat dit onaanvaarbaar is dat julle nie eens iemand op die toneel kon kry om die verkeer te reguleer nie.

Almal was ook per radio in verbinding en ek laat my nie vertel dat daar nie een verkeersbeampte was kon reageer nie.

Vrywilligers en ekself moes op die toneel die drukverkeer reguleer.

Hierdie is net weer eens ‘n bewys dat die Madibeng stadsraad nie in beheer is van die noodsaaklike dienste wat hulle onbekwame werknemers aan die gemeenskap moet lewer nie.

Johan Pieterse

DA Raadslid