Verkiesing?

Posted in Letters

Die redakteur

Na die verkiesing Woensdag, leef ons Donderdag weer in die dorp waar die enigste beloftes wat waar geword het, die vaalgereënde belofte-plakkate is, wat nou windverwaaid vir nog ‘n  paar weke aan die straatligte gaan klou.

Wat het geword van dinge soos eerlikheid, selftrots, menswaardigheid en integriteit? Of is dit woorde wat net te moelik geword het om uit te leef? Verstaan ons makliker woorde soos eie gewin?

Ons lewe in ‘n wêreld waar die mens, ons met ek vervang het, waar die graaf verruil is vir die swaard en waar liefde baie ligter weeg as mammon. Daarom sal ons nie verder kom as vaal plakkate teen dooie straatligpale nie, en leë beloftes wat mense laat glo dat hulle stem die buskaartjie tot ‘n beter môre is.

As die leë vaalgereënde plakkate afgehaal word van die moeë pale en ons die realiteit besef dat die blink van die verkiesing net diep genoeg was vir die suksesvolle kandidate teen die pale, dan word ons droom die volgende verkiesing, want hoop bekaam mos nie.

Tommy Wakeford