Maak ‘n verskil in kankerlyer se lewe

Posted in Latest News

BRITS POS – BRITS – Met haar spontane persoonlikheid en klokhelder lag, kan mens nie glo dat Jané Veldsman (18) die afgelope vier maande al diep spore in die onkologiese hospitaal getrap het nie.

Jané, is in Oktober 2021, net voor haar matriek-eindeksamen aan die Hoërskool Brits met T-sel Limfoblastiese limfoom gediagnoseer.
Omdat die mediese koste en die addisionele behandelings vir haar beenmurgoorplanting baie hoog is, het die personeel en leerlinge van Hoërskool Brits dadelik ingespring en ‘n fondsinsamelingsprojek vir Jané van stapel gestuur.
Limfoblastiese limfoom is ‘n baie aggressiewe soort bloedkanker in die T-selle (van die belangrike witbloedselle van die immuunstelsel en speel ‘n sentrale rol in die aanpasbare immuunrespons). Limfkliere in die sentrale deel van die bors tussen die longe word die meeste geraak. Dit lei tot ‘n massa in die bors wat asemhalingsprobleme en hoes tot gevolg het. Dié tipe kanker is baie aggressief en kan in ‘n baie kort tydperk na die brein en rugmurg versprei.
Brits Pos het vroeër die week met Jané, ‘n spog-leerling van haar skool, oor die afgelope vier maande se intense behandeling gesels.
“Alles het baie vinnig gebeur, ek het gedink ek is besig om verkoue of so iets te kry,” sê sy met haar aansteeklike positiwiteit.
Jané vertel verder dat sy nog in Oktober die trappe by die Voortrekkermonument dapper uitgestap het om as lid van Die Voortrekkers haar Presidentstoekenning (die hoogste toekenning wat ‘n Voortrekker in sy skoolloopbaan kan verwerf) te ontvang.
“Nadat ons die uitslae van die biopsie gekry het, is ek 27 Oktober 2021 in Pretoria-Oos Netcare Hospitaal opgeneem waar ek vir drie weke intensiewe chemo-terapie ontvang het. Ek was teen 16 November weer terug by my ouerhuis in Brits.”
Vir die volgende drie weke het sy een keer per week chemo ontvangs en op 29 November 2021 is haar kanker in remissie verklaar. Maar omdat dié kanker geneig is om na die brein te versprei, het sy nóg addisionele chemoterapie ontvang. Vanaf 6 Desember 2021 word die die chemoterapie, elke tweede week, direk in haar rugmurg toegedien.
Om ten volle van dié kanker te genees moet sy ‘n beenmurgoorplanting kry.
“Die nuus dat ek in remissie is, was wonderlik, want nou kan my eie beenmurg geoes word,” vertel sy met ‘n glinter in haar oë. “Ek is baie opgewonde, want eerskomende Maandag gaan ek weer hospitaal toe, maar die keer gaan dit anders wees, want ek gaan nou gesond word.
Indien Jané se bloedtelling volgens die mediesespan voldoende is, sal hulle teen Dinsdag 15 Maart 2022 haar beenmurg begin oes en die oorplantingsproses begin.
Die skool het reeds ‘n ruim kontant bedrag ingesamel en daag nou die gemeenskap uit om hul hande diep in hul sakke te steek en die gesin met donasies te ondersteun. Besighede en individue wat ‘n verskil in Jané se lewe wil maak kan Hoërskool Brits by 012 252 3228 kontak of direk in die skool se rekening deponeer: Hoërskool Brits, Nedbank, rekeningnommer: 187 606 2274, takkode: 198 765 en verwysing: Jané Veldsman.
Hoërskool Brits se personeel en leerlinge staan bankvas agter hierdie dapper Britsie en wens haar sterkte op die pad na herstel toe.