Oekraïne-krisis: Regering moet brandstofheffing opskort om druk op voedselpryse te verlig

Posted in Latest News

BRITS POS – BRITS - Agri SA se navorsing en ontleding dui daarop dat die Oekraïne-Rusland-krisis ’n ernstige uitwerking op voedselsekerheid in Suid-Afrika sal hê en dat dit ’n wesentlike risiko vir dele van die landbousektor inhou.

Met globale koringpryse en landbou-insetkoste wat astronomies styg, moet die regering dringend stappe neem om die brandstofheffing op te skort ten einde verligting te bring vir boere, veral die kleinskaalse boere. Dit kan help om ook voedselpryse vir Suid-Afrikaanse verbruikers in toom te hou.
“Suid-Afrika se handel met Oekraïne het geweldig toegeneem oor die afgelope dekade.
Tussen 2016 en 2020 het Suid-Afrika se landbou-uitvoer na Oekraïne meer as verdubbel - vanaf R76,5 miljoen in 2016 tot R155 miljoen in 2020. Landbou-invoer, wat redelik stabiel gebly het, het in 2020 sowat R390 miljoen beloop,” sê Kulani Siweya, Agri SA Landbou-ekonoom.
“Oekraïne sowel as Rusland is belangrike koringprodusente vir die wêreldmark en verantwoordelik vir ’n kwart van globale koringuitvoer. Onderbreking van die voorraadketting van dié stapelvoedsel sal wêreldwyd voedselprysskokke veroorsaak, veral in Suid-Afrika, wat 30% van die land se totale koring van hierdie lande invoer.
Rusland is ook die wêreld se voorste verskaffer van kunsmis. Onlangse data dui daarop dat globale kunsmispryse geweldig gestyg het tussen Januarie 2021 en Januarie 2022. Plaaslike kunsmispryse het verdubbel, terwyl globale kunsmispryse vervierdubbel het. Boere was dus reeds onder druk voor die huidige krisis. Die Russiese inval van die Oekraïne het bloot dié druk vererger.”
Brent-ruoliepryse het ook nagenoeg verdriedubbel tussen Februarie en Maart 2022.
Met die onlangse, sowel as verwagte styging in brandstofpryse, sal die vervoerkoste om voedsel by Suid-Afrikaanse verbruikers te kry geweldig toeneem oor die volgende paar maande - tensy die regering stappe neem om dit te vermy.
“Dit is die rede waarom Agri SA ’n beroep doen op die regering om gedurende hierdie krisis brandstofheffings op te skort ten einde ’n toename in voedselpryse te vermy.
Versuim om op te tree, sal bloot die kostedruk op verbruikers vererger en sodoende voedselsekerheid in Suid-Afrika in gevaar stel, veral vir die mees kwesbare gemeenskappe.
“Tesame met verbruikers, sal die opskorting van brandstofheffings beskerming bied aan kwesbare kleinskaalse boere teen toenames in insetkoste en teen die verwagte aanslag op landbou-inkomste vanaf Rusland en Oekraïne,” benadruk Siweya.
Landboukommoditeite is verantwoordelik vir meer as die helfte van alle SuidAfrikaanse uitvoer na Oekraïne, meestal vrugte en neute. Dit sal waarskynlik ’n geweldige uitwerking op die prestasie van sommige bedrywe in die eerste kwartaal van 2022 hê. Sitrusprodukte beslaan die grootste gedeelte van uitvoer na Oekraïne en is geraam op R133,7 miljoen in 2020.
Blokkering van uitvoer na Rusland sal ook ’n nadelige uitwerking op Suid-Afrika se beduidende handel in landbou-kommoditeite met daardie land hê. Suid-Afrika se uitvoer na Rusland beloop meer as dubbel sy landbou-invoer. Landbou-invoer het stabiel gebly op ongeveer R2 miljard tussen 2016 tot 2020, terwyl uitvoer vanaf R2,1 miljard in 2016 tot R4 miljard in 2020 toegeneem het.
Die Oekraïne-Rusland-konflik hou dus beduidende gevolge in vir die prestasie van Suid-Afrika se landbousektor. Die regering moet dringend stappe neem om die vernietigende gevolge van hierdie verlore inkomste op die land se boere te versag;
byvoorbeeld deur marktoegang te bewerkstellig sodat produkte wat bestem is vir Oekraïne, elders versend kan word. Elke dag wat die regering versuim om op te tree, hou ’n risiko in vir broodnodige werkgeleenthede in die sektor.
“Agri SA sal alles in sy vermoë doen om met die regering en bedryfsbelanghebbendes oor die waardeketting heen te skakel, sodat ons gesamentlik kan verseker dat Suid-Afrikaners toegang het tot genoegsame voedsel in dié onsekere en moeilike ekonomiese tye,” sluit Siweya af.