274 dae van verlamming ná Covid-inenting

Posted in Latest News

BRITS POS – BRITS – ‘n Blakend gesonde Jean van Vuuren (64), jarelange inwoner van Brits, het op 18 Augustus 2021 vir haar Johnson & Johnson Covid-19-inenting gegaan, ‘n week later is sy met Guilian Barre gediagnoseer en vir die afgelope 274 dae is sy steeds verlam.

Brits Pos het met Jean se dogter, Melissa Panayotakis oor die emosioneel uitgemergelde reis tot dusver gesels.
“Dis ondenkbaar. Binne ‘n oogwink het ons lewens totaal verander,” sê Melissa wat steeds positief is ten spyte van die donker wolk wat haar en haar familie omring. “My ma was vir 225 dae in Eugene Marias se kardio-intensiewe sorgeenheid. Sy was vir al dié dae aan ventilators gekoppel en kon glad nie kommunikeer nie.
“My ma se internis, dr Heidi Prinsloo, van Eugene Maraishospitaal in Pretoria het bevestig dat die J&J entstof veroorsaak het dat my ma ‘n oordrewe imuunreaksie gekry het. Haar imuunstelsel het toe haar senuweestelsel aangeval. Met die gevolg dat sy met Guiliane Barre Sindroom gediagnoseer is. Dit was skokkende nuus vir ons familie, aangesien ons toe niks van die wrede Guiliane Barre Sindroom geweet het nie.”
*Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is Guillain-Barre-sindroom ‘n baie seldsame toestand, dis ‘n outo-immuunversteuring waarin perifere senuwees beskadig is en nie seine doeltreffend kan oordra nie. Die siekte vorder tipies van die bene tot by die romp en kan selfs die asemhalingstelsel beïnvloed, wat byna volledige verlamming veroorsaak. Die myelienskede wat die senuwees beskerm, word beskadig, sodat seine wat langs die senuwees reis, nie behoorlik oorgedra word nie. Aangesien senuwees nie seine na spiere kan oordra nie, sal die spiere nie behoorlik funksioneer nie, wat verlamming veroorsaak. Dit word ook beskou as een van die seldsame newe-effekte van entstowwe.
“Dis nou dag 274 en sy is in ‘n rehabilitasie sentrum in Pretoria, sy is feitlik nog heeltemal verlam en kan net deur kopknikke en lippetaal kommunikeer.”
Genadiglik het Van Vuuren-egpaar ‘n goeie mediese fonds, maar ná 225 dae in ICU is dit verstaanbaar dat die fonds nou uitgeput is. Jean word eersdaags ontslaan, maar sal vir ‘n onbepaalde tyd tuis, mediese versorging moet kry. Alle ekstra medikasie, arbeidsterapie, spraakterapie en fisioterapie asook die diens van ‘n dieetkundige sal die gesin self moet betaal en doen daarom ‘n beroep op die gemeenskap om met donasies te help. Van Vuuren se saak is by die Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) aangemeld.
‘n Jean van Vuuren Foundation NPC is gestig. Alle fondse sal deur ‘n onafhanklike ouditeur bestuur word. Individue en maatskappye wat tot hierdie fonds wil bydra, sal vir belastingdoeleindes, ‘n Artikel 18A-sertifikaat ontvang.
Bankbesonderhede: The Jean van Vuuren Foundation NPC, Bank: FNB-besigheidsrekening, rekeningnommer: 62913786515, takkode: 210554
Skakel haar dogter, Melissa Panayotakis by 072 255 2438 vir enige navrae.