Huis in puin gelê

Posted in Latest News

BRITS POS – BRITS – Verlede Vrydagoggend, 14 Januarie 2021, het ‘n niksvermoedende Marlain Pistorius omstreeks 08:00 met haar dagtaak begin, net om ‘n uur later die angswekkende oproep te kry dat haar huis in De Kroon in ligte laaie is. “Dis onwerklik om te dink dat ‘n mens se hele lewe in ‘n oomblik in roetswart hope as kan verander,” het ‘n geskokte Marlain aan Brits Pos gesê. 

Meer as drie dekades se kosbare herinneringe, sentiment van onskatbare waarde en meeste van als, ‘n tuiste waar kinders en kleinkinders sorgloos rondgehardloop het, is sonder waarskuwing deur die ongenaakbare vlamme verswelg.
Bure, vriende en familie het almal hand bygesit om die vlamme onder beheer te kry en genadiglik is niemand in die voorval beseer nie. Die egpaar gaan tans by familie tuis en bedank elkeen vir hulle onbaatsugtige hulp en bystand, ook twee onbekende mans, “engele” in ‘n grysgroen Landrover wat daar stilgehou en ingespring het om bystand te verleen. Teen druktyd was die oorsaak van die brand nog nie bekendgemaak nie.