Erge donderweer en weerlig tref Brits

Posted in Latest News

BRITS POS – BRITS - Verlede Vrydagmiddag het ‘n hewige donderstorm wat met geweldige weerlig gepaard gegaan het, Brits getref.

‘n Weerligstraal het ‘n palmboom in die tuin van Riaan en Dina van Heerden in Loodstraat getref, wat die boom aan die brand laat slaan het. Dina vertel dat hulle buurman, Willem Lotz haar te hulp gesnel het, omdat net sy en die kinders op daardie stadium tuis was. Gelukkig was daar munisipale water en Lotz het die brand geblus. Madibeng-brandweer het kort daarna ook op die toneel opgedaag.
‘n Voetganger is klaarblyklik dieselfde middag tragies op die Wagpospad deur weerlig getref en sy lyk is Saterdagoggend deur verbygangers opgemerk, waarna die liggaam van die oorledene na die staatslykhuis vervoer is vir ‘n nadoodse ondersoek.