Voetspore van liefde

Posted in Latest News

BRITS POS – BRITS – Lede van die VLU Brits het Woensdag, 9 Februarie 2022 ‘n heerlike Valentynspiekniek op die oewer van die Krokodilrivier by Raloka Ranch, net buite Brits geniet.

Almal was getooi in rooi om die liefde te vier en met die VLU tema van die jaar, Laat ‘n voetspoor, was dit die ideale geleentheid om ‘n voetspoor van liefde te laat.
Die tak was bevoorreg om die sprankelende Rienkies Venter as gasspreker te verwelkom. Rienkies se boodskap was oor die voetspore wat ons agter laat. Volgens die woordvoerder van die tak, Christelle Buys, het Rienkies gesê dat die belangrikste voetspore wat ons as kinders van die Here kan los, is om verteenwoordigers van ‘n hemelse koninkryk te wees en om voetspore te los wat ander kan volg. Tydens die geleentheid is die lede wat in 2021 in onderskeie takafdelings presteer het, vereer. 1ste plekke: Naaldwerk - Charlotte Rossouw, Gebak - Betsie Putter, Kuns - Denise Swanepoel en Blomme - Christelle Buys.
Die lede en gaste het die oggend terdeë geniet en dit sal vir baie lank nog as een van dié jaar se hoogtepunte onthou word. Die tak se volgende vergadering vind Woensdag, 9 Maart 2022 om 09:30 plaas en lede gaan deur die Gasvryheidstudente van Hoërskool Brits onthaal word.
Belangstellendes wat graag die geleentheid wil bywoon kan die voorsitter, Neeltje Louw, by 076 780 2553 skakel.