Dié brand sal geblus word

Posted in Latest News

BRITS POS – BRITS – ‘n Hartsgeskenk, ‘n brandbestrydingsleepwa is onlangs deur die Sinoville Brandbestrydingsvereniging (SBBV) aan die Voortrekkermonument oorhandig vir gebruik.

Die SBBV se opgeleide vrywillige brandbestryders help tydens brande van stukture en staan by met ramptoestande, soos motorongelukke waar mense vasgevang word in ’n wrak. Hulle werk ook gereeld met gemeenskapswerkers.
“Ons is ‘n organisasie wat die gemeenskap help en dien,” sê JP Botha, voorsitter van die SBBV-Trust, “en ons het besef die monument het ’n behoefte aan so brandwa en gevoel hulle moet dit op ’n bruikleenbasis aan hulle beskikbaar stel.
“Die wa, wat duisende rand werd is, is deur gemeenskapskenkings gekoop en ons gaan hom nou vervang met ’n ander wa.
Ons het net besef ons kan hom nie verkoop nie, want die gemeenskap het hom gekoop en ons het ’n nuwe tuiste vir hom gesoek. Ons het besluit om hom aan die monument beskikbaar te stel, want dit is hoe ons ons gemeenskap dien,” sê Botha.
Botha het ook ’n passie vir erfenisbewaring en dit was ook ’n groot rede hoekom hulle op die monument besluit het. “Dit is hoe ons ons deel doen om ons erfenis te bewaar. Kyk wat het gebeur met die parlement. Ons sal, en wil, bydra tot ons erfenis en daar is besluit dié is die beste manier om dit te doen,” sê Botha.
Die Voortrekkermonument se bestuur kon nie genoeg dankie sê vir die SBBV se ongelooflike bydrae tot die bewaring van ons erfenis nie. “Hierdie onbaatsugtige daad van die SBBV wys daar is steeds hoop. Ons verwys na die Voortrekkermonument as ’n Baken van Hoop, maar deur dade soos dié bewys organisasies soos die SBBV hulle is sélf ’n baken van hoop, nie net vir die breër gemeenskap nie, maar ook vir erfenisbewaring,” sê Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder by die Voortrekkermonument. Die wa is ingerig om veldbrande asook strukturele brand te blus en die personeel van die monument is opgelei om dit tot die beste van sy vermoë te gebruik en daar is aangebied om verdere opleiding vir personeel te gee oor brandbestryding.
Maar dit is nie al nie, saam met die brandwa het hulle nog drie brandpakke, maskers, ’n brandblusser en nog toerusting aan die monument geskenk.