Die ander kant van die “Killer”-sage

Posted in Latest News

BRITS POS – BRITS – Nadat die saak teen Jaap Horn, die man wat na bewering die hond, Killer in 2020 doodgeslaan het, op 16 Maart 2022 by Brits Landdroshof van die rol geskrap is, het Jaap Horn (76) en sy vrou Elsa (76) hulle kant van die storie met Brits Pos gedeel.

“Ons woon op Krokodildrift-wes, net buite Brits, en die hond, Killer en sy eienaar (‘n man), was van die huurders op ons grond,” vertel Jaap wat sy hele lewe hier op Brits woon. “Verskeie kere voor die voorval op 23 Januarie 2020 het ek die eienaar van Killer gevra om asseblief die hond in ‘n kamp toe te maak, aangesien hy mense, en van my werkers al gebyt het. Dit het op dowe ore geval en ek het my prokureur gevra om ‘n amptelike skrywe oor die hond aan die eienaar te gee. Dit is ook geïgnoreer.”
Brits Pos het met die prokureur gepraat en sy het bevestig dat daar amptelik verskeie kere aan die eienaar oor die hond se gedrag geskryf is.
“Op die betrokke dag was ek juis besig met staalwerk om heinings te bou, toe ek my vrou, Elsa, benoud hoor gil het. Sy was in die tuin toe Killer haar omgestamp, aangeval en aan haar been beetgekry het. Toe ek by haar kom, was dit net bloed. Elsa ly aan Sistemies Lupus Eritematose. Ek het probeer om die hond van haar af te trek, maar hy het aanhou byt. My vrou was in erge pyn, die hond wou nie laat los nie. Dis moeilik om te glo dat ‘n babahondjie (volgens betogers) soveel krag in sy kakebeen het. Hy wou nie los nie en ek het hom met die pyp geslaan om my vroue uit sy kake te bevry. “Eers na ‘n paar houe het hy gelos en weggehardloop. Ek het die bloeding op my vrou se bene probeer stop, maar kon nie en het haar na ‘n dokter gehaas.”
“Nadat ons terug by die huis was en Elsa tot ruste gekom het, het ek na die eienaar van die hond se ma, Rina Potgieter gegaan. Die hond het op sy kombers gelê, maar was toe dood. “Rina het my gevra om die hond te gaan begrawe - wat ek en een van my werkers toe wel gedoen het. Later het ‘n vrou van Wetnose my gekonfronteer en gesê ek moet die hond dadelik gaan opgrawe, wat ek toe ook gedoen het. Sy is met die hond se oorskot daar weg.” Foto’s en mediese verslae van Elsa se beserings is by die hof ingedien. Vir meer as twee jaar het die saak van dieremishandeling teen Jaap Horn gesloer. “Behalwe dat dié hofsaak ons derduisende rand uit die sak gejaag het, het my reputasie ook baie skade gekry. Maar, ek berus my by die wete dat ek my vrou waarmee ek 54 jaar getroud is, beskerm het en ook dat mense wat my ken my weet dat ek nooit ‘n dier so sonder rede enige skade aan sou doen nie.”