Werknemer van tuindienste-onderneming in Brits sterf in koeëlreën

Posted in Latest News

BRITS POS – BRITS - ‘n Werknemer van ‘n tuindienste in Brits, Oscar Wilson (46,) het Vrydag, 29 April omstreeks 18:30 die Oukasie-afdraaipad van die Wagpospad geneem om die werkers nader aan hulle huise in Oukasie af te laai en ‘n U-draai by die treinbrug gemaak.

Klaarblyklik het vyf mans, waarvan een gewapen, die bakkie omsingel en drie skote op Wilson afgevuur wat hom in die maag getref het. Hulle het die slagoffer uit die bakkie gepluk en met die bakkie op die vlug geslaan. Die tuindienste-werkers het te voet gevlug. Wilson het op die toneel aan sy beserings beswyk. Die bakkie is later verlate naby Die Hoërskool Wagpos gevind. Sake van motorkaping en moord is volgens Maria Nkabinde, SAPD Brits-woordvoerder by die Brits polisiestasie aanhangig gemaak, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting kan Lt Kol Charmaine Jenner van die Brits-speurtak by 082 460 6581 kontak of Crime Stop by 08600 10111. Anonieme wenke/inligting kan ook via die MySAPS-toepassing deurgegee word.