Strome water moontlik iets van verlede

Posted in Latest News

BRITS POS – BRITS – Strome water wat vir maande in Spoorwegstraat-verlenging afgevloei het, is moontlik nou iets van die verlede nadat DA-raadslid Eugene van der Schyff en die Madibeng munisipaliteit dié uitdaging Dinsdag, 10 Mei 2022, daadwerklik aangepak het.

Brits Pos het met rdl Van der Schyff, wat letterlik al vir maande “spook en spartel” om oplossings vir die unieke probleem te kry, gesels. “Dis is ‘n groot kopseer vir Madibeng munisipaliteit, aangesien dié glad nie ‘n standaard waterlek is nie en werklik ‘n unieke uitdaging is,” sê Eugene. “Die probleem het drie onderlinge uitdagings; eerstens is daar ‘n lekkasie by die klep van die hoofreservoir van Brits – die water loop dan van die reservoir af met Allen se Koppie en onder deur die die kanaal, tweedens lek die kanaal (waterwese is bewus daarvan en gaan Vrydag 13 Mei 2022 die sluise van die kanaal toemaak om dan die nodige herstelwerk aan die kanaal te doen) en derdens het die waterpyp wat deur die erf, Allen se Koppie no.3 van me Jeanine Ferreira loop, ook ‘n klep wat foutief is en water lek.”
“Wat dié probleem egter so uniek maak is dat die waterpyp vanaf die reservoir, waar die klep lek, nie ‘n standaard grootte is nie, met die gevolg dat die foutiewe klep wat vervang moet word nie algemeem beskikbaar is nie.” “Maar”, vertel Eugene verder, “Madibeng munisipaliteit het reeds verskeie ingenieurs oor die klep gekontak en ook om ‘n tydelik oplossing daarvoor te kry. Die ander uitdaging is die klep in me Ferreira se erf en Dinsdag 10 Mei 2022, het werkers reeds begin om die klep in haar erf te herstel.” Teen druktyd het Brits Pos weer met rdl Van der Schyff gepraat en volgens hom is die strome water wat in Spoorwegstraat-verlenging afvloei, reeds gestop en hy het ook bevestig dat die lekkasie in me Ferreira se erf ook met ‘n spesiale klamp herstel is en dat dié probleem ook opgelos is. “Met die positiewe samewerking van Madibeng munisipaliteit het ek geen twyfel dat die (jarelange) probleem eersdaags iets van die verlede sal wees,” het Eugene op ‘n positiewe noot afgesluit.