Oudsoldate word herdenk by die VTM

Posted in Latest News

BRITS POS – PRETORIA – Bykans 800 mense, familie, oudsoldate en vriende het verlede Sondag saamgetrek vir ‘n gedenkdiens vir soldate wat tydens die grensoorlog dood is. Die gedenkdiens van die Raad van Militêre Veterane Organisasies (RMVO) is by die SA Weermag-gedenkmuur by die Voortrekkermonument (VTM) gehou.

Van die oud-Weermaghoof van die Suid-Afrikaanse Weermag en Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, genl. George Meiring, tot familie van oudsoldate wat oorlede is, het hulde gebring. Verskeie kranse is deur verteenwoordigers van eenhede van die weermag, politici, familielede, kultuurorganisasies en Voortrekkermonument gelê. Die gedenkdiens word reeds sedert die oprigting van die gedenkmuur in 2009 gehou en self deur die Covid-19-inperking is die diens virtueel gehou.
Vliegtuie, helikopters en valskermspringers het die gehoor laat snak na hul asems toe hulle ook vertonings gedoen het. Volgens Johann du Preez, voorsitter van die SA Weermagvereniging en organiseerder, is dit nodig om makkers wat die hoogste prys betaal het om die land te beveilig, te vereer en te onthou. Voorsitter van die RMVO, genl.maj. Lawrence Smith, sê dit is die grootste opkoms wat hy in 10 jaar beleef het. Sers. Marius Havenga, van 31 Bataljon, is op 6 Julie 1981 in Namibië oorlede en drie van sy broers het die diens bygewoon. Oudsersant Roché Vermaak en sy hond Markus het ook ’n krans gelê vir die honde wat tydens die grensoorlog dood is.
Verder het bevelvoerder Andrew Wood Wright vir die eerste keer vanjaar met die perd Titan hulde gebring aan perde wat in die oorlog dood is. (Foto’s verskaf)