Lig skyn in Sonop

Posted in Latest News

BRITS POS – BRITS – Uiteindelik, ná 17 dae sonder elektrisiteit en dae se betogings van ontevrede inwoners in Sonop en Skierlik, het die die “ligte” Sondag geskyn. Maar, ongelukkig net vir 90% van die twee nedersettings se huise, aangesien daar steeds een substasie, aan die bokant van Sonop (Voëltjiedorp) is wat steeds buitewerking is.

Brits Pos het Dinsdag, met VF Plus-raadslid, Lardus Klopper, wat gedurende die hele krissis onverpoos gewerk het om oplossings en antwoorde oor die situasie, vir die inwoners te kry, gepraat.
“Ek was maar een van ‘n span mense wat saam gewerk het om die probleem so gou as moontlik aan te spreek,” sê Lardus. “Elsa Lourens, koukusleier van die VF Plus, lede van die gemeenskapspolisiëringsforum, lede van AfriForum en meeste van die inwoners van Sonop en Skierlik het saamgestaan en gewerk om lig in die duister te kry.”
“Dit was aanvanklik ‘n probleem met die hoofkabel wat krag aan die twee nedesettings voorsien. Publieke werke was van die begin af van die kabelprobleem in kennis gestel. Kwotasies vir nuwe kabels is gedoen en toe wag ons vir publieke werke om die kontrakteur aan te stel.”
“Letterlik chaos het in Sonop en Skierlik uitgebreek toe boosdoeners links en regs begin om al die mini-substasies en kragbokse te plunder. Kabels is gesteel en uitgebreek, met die gevolg dat die probleem net al groter geword het.”
Lardus sê verder dat die kontrakteur wat aangestel is, na bewering gedreig is en dat hy uit vrees nie vroeër met die herstelwerk kon begin het nie.
Donderdag 9 Junie het die kontrakteur, begelei deur lede van die polisie, GPF en AfriForum begin werk.
Ontstoke inwoners wat sedert Maandag, 7 Junie die Sonop-pad versper het, het Donderdag gesê dat hulle sal voortgaan met versperrings totdat die kragprobleem opgelos is.
“Ongelukkig is daar altyd die kriminele elemente wat situasies soos die uitbuit en onnodige onmin veroorsaak, maar meeste van Sonop en Skierlik se inwoners het rotsvas saamgestaan en sommer self ingespring en gehelp waar nodig.
“Een en almal het bygedra, met donasies, ondersteuning en bystand. Dit was voorwaar ‘n riem onder die hart om ‘n gemeenskap só te sien saamstaan,” sê Lardus.
Die kontrakteurs het hulle ook knap van hul taak gekwyt en teen Saterdag was 90% van krag herstel. Ongelukkig moes die inwoners nóg ‘n nag in koue en duister deurbring. Elsa Lourens het aan Brits Pos bevestig dat daar volgens Eskom Saterdag load reduction na die gebied was. Genadiglik was die krag Sondagoggend aan en teen druktyd het die ligte steeds gebrand.