Elke mens is sy eie sirkus

Posted in Blogs

Ek Praat Prontuit
Deur Mêrie Scheepers

Het jy al gedink hoe sou die wêreld gewees het as daar nie soveel verskillende soorte mense was nie?  Daar is niks wat ons so vies maak soos ‘n ander mens nie,  want as jy mooi dink,  is dit altyd mense – direk of indirek – wat jou omkrap.

Die teenoorgestelde is ook dikwels waar,  omdat mense soveel vreugde kan bring.   Die enigste ding wat my asem meer wegslaan as mense,  is die skepping met die see, die diere, die plante en alles wat so perfek ineengeskakel is.  Die mens is ook deel van hierdie heelal,  ‘n klein-klein deeltjie,  maar omdat ons mense is,  dink ons die mens is belangrik.

Daar is sekere soorte mense waarvan baie min van ons hou en dan is daar ander karakters waarvan ons net nie genoeg kan kry nie. 

Seker die grootste gros van al die miljoene boeke wat daar al ooit geskryf is,  gaan hoofsaaklik oor mense en mensever-houdinge.  In verskil-lende agtergronde,  lande, oorloë, rampe -  maar altyd oor mense.

Ek is mal oor mense.  Ek kan ure na verskillende soorte mense luister en my verkyk aan hulle giere en geite. 

Dit is een van die redes waarom ek skryf,  want daar loop nie ‘n mens by my verby sonder dat ek ten minste een dingetjie raaksien om te bêre sodat ek dit eendag as deel van ‘n karakter kan gebruik nie.

Hoe ouer ‘n mens word,  hoe ronder word jou hoeke.  Jy is nie altyd meer so vuur en vlam om die ou wat van jou verskil, af te skuur nie.  Dalk omdat jy weet dit sal vanself gebeur?

Dalk omdat hy geleer het dat hy nie noodwendig verkeerd is wanneer hy van jou verskil nie?

As jy jonk is, wil jy almal reg buig,  met of sonder geweld verander sodat hulle in jou perfekte prentjie inpas.  Op ‘n dag besef jy dan:  Jou prentjie is maar een van miljoene en dalk is jy die een wat nie mooi  in ander se raampie pas nie.

Jy besef ook:  Ek hoef in niemand se raam te pas nie.  Daar is ‘n raam vir elke mens wat ooit begin asem haal het.

Dit is wanneer jy jou begin vergaap aan die wonderlike twee-beenspesie wat jou elke dag vir die res van jou lewe sal verras en sal vergas op hul uniekhede.