Koester en help dra aan ons eie

Posted in Blogs

Ek Praat Prontuit deur Mêrie Scheepers


Ons woon hier op Upington, ‘n mooi dorp tussen twee some.  ‘n Groen soom en ‘n ongerygde halfwoestyn soom van rooi sand en plek-plek klip. 
Tussen hierdie wye grense leef daar baie verskillende soorte mense.    Inkommers, boorlinge, uitge-waaides en vasbyters.
Een van die klagtes van so ‘n klein plekkie is dikwels dat almal alles van almal af weet, maar Upington het daardie skoene nou so ver ontgroei dat hy weer  moet kaalvoet loop, want hy het nog nie besluit of hy moet dorp, stad of streek moet wees nie.  Of hy sandale, hoë hakke of rystewels kan dra nie. 
Wil ons soos stadsmense wees en liefs anderpad kyk?
Of is ons bloot so onskuldig onkundig dat ons bo-oor ander se stryd om voortbestaan kyk?
Wie van ons weet van Oasis?  “Oasis Skills Development Centre”  is meer as net ‘n skool.     Daar naby die brug tussen die bome sit die plekkie waar wonderlike werk gedoen word vir en met gestremde mense.  Volwassenes en kinders wat weens fisiese en intellektuele  gestremdheid  nie in die hoofstroom samelewing kan inpas en aanpas nie, wat nie kan funksioneer soos ek en jy wat verant-woordelikheid vir onsself kan neem nie.
Dit is ‘n hawe waar die mense wat bietjie anders is, spesiale mense met spesiale behoeftes, opgelei, opgevoed en versorg word sodat hulle sosiaal funksioneel en aanvaarbaar is.
Omdat so min van ons mense weet van Oasis se bestaan en van die wonderlike werk wat daar gedoen word,  kry die plek swaar weens ‘n groot tekort aan geld en die broodnodige ondersteuning van ons eie mense uit ons omgewing.  Die handjievol borge, ouers en ander mense wat reeds help en wonderlike werk doen,  kan net nie voorbly nie.
Niemand staan bakhand hier nie.  Daar word gewerk,  planne gemaak en vinger getrek.
Min mense weet van die vars brood en koek wat hulle bak,  die sementstene, tuinfonteintjies en planthouers wat hulle maak en die groente wat hulle kweek.  Ons weet nie dat ons kan help om die krag-rekening te betaal,  of die potte aan die kook kan hou,   of die skoolbussie vol brandstof kan gooi deur hierdie produkte te koop nie.
Die ondernemings van Upington sal wel besef dat al hierdie betrokkenis ook deel is van die koopkrag van ons omgewing.
Daarom wil ek baie mooi vra: Is daar nie nog ‘n klein plekkie in jou hart vir Oasis nie?  Is daar nie ‘n diensorganisasie wat hulle onder die vlerk wil neem nie?  Ek vra mooi asseblief,  want waarheen sal al hierdie mense gaan as hier nie meer vir hulle ‘n heenkome is nie?  Klim in jou motor en gaan kyk hoe netjies is die werf en die geboue,  hoe gedissiplineerd is die kinders,  hoeveel gee die opvoeders om.
Dan sal jy dalk self besluit dat dit oor en oor die moeite werd sal wees as elkeen van ons net ‘n klein deeltjie doen vir die behoud en voortbestaan van Oasis op Upington.