Selektiewe geheue

Posted in Blogs

Ek Praat Prontuit

 

Deur Mêrie Scheepers

 

UPINGTON: Skippie sou vanjaar 59 jaar oud geword het.  Ongelukkig is hy kort voor sy 55ste verjaarsdag dood aan kanker.
Ek mis hom baie en daar gaan seker nie ‘n dag verby wat ek nie met hom praat nie.  Ek praat ook baie van hom – in die begin het die mense ongemaklik geraak as ek iets oor Skippie sê – ek dink hulle was seker bang ek sal in trane uitbars,  of iets.
Baie maal – voordat ek self ‘n weduwee was – het ek my verstom as die mense so verlang na iemand wat dood is. Veral as hulle en die oorledene nou nie eintlik oor die weg gekom nie.  Skielik was hy dan die wonderlikste man op twee bene, soveel so dat ek lus gehad het om te sê: “Maar net nou die dag het jy hom weggewens!”
Dit is waar dat mense se foute en swakhede vervaag en dat ‘n mens net die mooi onthou. 
Nie net van mense wat dood is nie,  ook van ons eie lewe.  Die sensortjies wat daar is om ons te beskerm teen langdurige pyn, sorg dat die diepste seer eerste rowe oor kry en soms heeltemal toegroei. 
Dan bly net die lekker oor.
Dit is waarom daar net goeie ou dae is.  Is ‘n mens nie wonderlik aanmekaar gesit nie?
Natuurlik was daar ook dae wat ek Skippie graag wou verwurg – en hy sekerlik vir my ook.
Dit is maar sy geaardheid wat sy lewe telkens gered het.  Hy het hom so min aan my gesteur (juis omdat hy my so goed geken het) dat Marina, een keer toe ek stoom afblaas in die kombuis,  gevra het:  “Weet Pa Ma is kwaad vir hom?”
Die grootste verskil tussen ons was seker die feit dat ek alles dadelik wou reg hê. Al moes ek baklei, breek, buig of vloek.  Dit moes net gedoen word. Terwyl ek slapelose nagte gehad het van kommer,  het hy soos ‘n baba geslaap. Skippie het geglo dinge kom vanself reg. 
Ek praat nou nie van goeters wat gebreek het nie,  die het hy heelgemaak. Vindingryk en   handig  met dit wat hy tot sy beskikking gehad het.
Ek praat van groot dinge soos finansies, toekomsdrome, verhoudinge, krisisse. Hy het geglo hy was reg – alles het reggekom.
Ek het geglo ek was reg,  want ek het dit reg-baklei terwyl hy hom nie bekommer het nie. En daarna het ons daarvan vergeet en aangegaan na die volgende, en die volgende en die volgende. Sy kanker was ook vir hom een van daardie dinge wat hy gelate aanvaar het.
Dalk was hy al die tyd reg,  want hier het my baklei niks gehelp nie.