GEMSBOK-UPINGTON: Dit het aan die lig gekom dat ‘n bakkie wat deur premier, dr. Zamani Saul, aan Ouma Katriena Esau geskenk is deur die burgemeester van ZF Mgcawu teruggeneem is.
Volgens wat die Gemsbok kon vasstel is die bakkie deur ‘n familielid van ouma Katriena, wat glo ‘n opposisieparty wykskandidaat is gebruik om tafels na die stempunt toe aan te ry.
Volgens wat beweer word het burgemeester Paulus Mgcera, “die Sleutels in die huis kom afvat en die bakkie gevat”.
Daar word verder beweer dat die bakkie daarna deur lede van sy party gebruik is om drank aan te ry.
Ouma Katriena Esau; wat as die Noord-Kaap se lewende menslike skat en ontvanger van die Orde van Baobab, spog sedert Julie vanjaar met splinternuwe wiele om haar werk as bewaarder van die N | uu-taal voort te sit.
Die voertuig is aan haar skool, Reik na die Sterre, deur die Noord-Kaapse regering oorhandig.
Die provinsiale sekretaris van hierdie party, Deshi Ngxanga, het ingegryp en in ‘n aanma-ningskrywe die betrokke lede oor die vingers getik.
“Die bakkie is nie ‘n partypolitieke skenking nie, maar ‘n skenking van die regering aan Ouma Katriena. Dit is baie belangrik om die skeiding tussen party en staat te handhaaf,” het hy geskryf.
Hy het geskryf dat die party se provinsiale tak verontwaardig is oor die optrede van die raadslede en eis dat diegene wat daarby betrokke is, dringend ter sprake moet kom.
Hy het ook ‘n beroep gedoen dat reël 25 van die party se grondwet ingeroep moet word en dat dissiplinêre stappe ingestel moet word teen die raadslede wat by hierdie veragtelike optrede betrokke is.
Vir meer lees ons 24 September 2021 uitgawe