Plantparasiete

Posted in Simbiose

Die Europese maretak (voëlent in Suid-Afrika), word prominent vermeld in die Griekse mitologie en in Noorse legendes. In die pre-Christelike Europa is die maretak gesien as ‘n voorstelling van die goddelike manlike wese se libido, viraliteit en krag. Die Kelte was van mening dat dit ‘n oplossing vir onvrugbaarheid by diere en ‘n teenmiddel vir vergiftiging was. Die Druïde het mare-takkies in eikebome ge-oes wat verband gehou het met allerhande bygelowe en genesingspraktyke. Die oeroue oorlewing van mare-takkies wat deel uitmaak van kersversierings in Europa en Amerika asook die gebruiklike soen onder die maretak om onvrugbaarheid te genees en geluk te bring, is vandag nog algemene praktyk in sekere kulture.

Voëlent is hemi-parasitiese lugplante wat op elke kontinent, behalwe Antartika voorkom. Dit groei op gasheerplante deur vashegting met spesiaal gewysigde wortels wat hulle in staat stel om water en voedingstowwe uit die gasheerplant te absorbeer. Hierdie plante is meestal houtagtige struike met bros stingels en blare.

“Vuurhoutjies” (Tapinanthus oleifolius) is een van die bekendste inheemse voëlentspesies in Suid-Afrika. Die plant behoort aan die Loranthaceae-familie, wat hoofsaaklik uit parasietiese plante in 74 genera en circa 900 spesies bestaan. Alhoewel veranderlik in grootte en vorm het baie spesies pragtige groot pronkerige blomme. Daar bestaan ‘n koëvolusionêre verhouding tussen die plante en voëls wat die blomme bestuif en ook die saad versprei. Die plant speel ‘n belangrike ekologiese rol in die voorsiening van nektar in die winter wanneer min ander plante blom.

Die helderkleurige regopstaande rooi blomme (vandaar die Afrikaanse naam vuurhoutjies) is baie sensitief vir aanraking en produseer groot hoeveelhede stuifmeel wat op die kop van veral suikerbekkies beland as hulle die plante besoek. Die styl van die ovarium beweeg na een kant om te verseker dat die bestuiwer optimale geleentheid gebied word om kruisbestuiwing te laat plaasvind. Hierdie verskynsel verminder die moontlikheid van self-bestuiwing.

‘n Groot verskeidenheid voëls vreet die ryp vrugte. Dit is helder-rooi, baie soet en bedek met ‘n dik taai gom. Die vrugte klou vas aan aan die snawels en pote van voëls, wat dit noodgedwonge iewers elders teen ‘n ander tak of boom afskraap. By ontkieming, wat baie gou plaasvind, heg die saailing vinnig aan die gasheerplant se bas met sy gespesialiseerde wortels. Hierdie wortels veroorsaak dat ‘n groot vergroeisel soos ‘n sweer by die plek van vashegting ontstaan. Hierdie struktuur sal baie keer verrot en so ‘n swakplek in die tak struktuur veroorsaak wat sal maak dat dit afbreek. Die hemi-parasiet kan, wanneer dit in groot hoeveelhede op een plant voorkom die plant uiteindelik laat vrek.

Volgende week: Grootskaalse ekologiese rol van simbiose