Die grootskaalse ekologiese rol van simbiose

Posted in Simbiose

Teen hierdie tyd is dit duidelik dat die ingewikkelde proses van simbiose elke dag oral in die alledaagse samelewing afspeel. Ek het doelbewus nie die meer algemene voorbeelde van simbiose aangespreek nie, soos die verhouding tussen miere en doringboomblomme, vee-reiers en beeste, renostervoëltjies en herbivore, miskruiers, ens.

In hierdie laaste aflewering in die reeks gaan ek vlugtig kyk na die oorkoepelende ekologiese rol van simbiose en wat sal gebeur as een van die rolspelers in hierdie drama van die toneel moes verdwyn. Om ‘n omvattende prentjie te skilder sou ek ‘n boek hieroor moes skryf. Ter illustrasie gaan ek daarom vlugtig volstaan met die moontlike impak wat die afwesigheid van insekte sal hê en watter grootskaalse ekologiese katastrofe ons in so ‘n geval kan verwag.

Binne die lewens­ondersteun­ingstel­sels van die planeet word daar sterk gesteun op organismes soos bestuiwers om hulle werk te doen sodat die planeet voedsel kan hê. Ongeveer 85% van die bestuiwing van alle blomplante word gedoen deur ‘n paar voëlspesies, soogdiere, skoenlappers, motte, vlieë, perdebye en kewers. Die mees algemene bestuiwer, wat ongeveer een derde van al die werk doen, is bye. Die groter meerderheid van die plante op aarde benodig dus hierdie mutualistiese simbiotiese verhouding van insekte om blomme te bestuif.

Die rol wat insekte daarom in die ekologie speel is baie groter as wat mens besef en indien die insekpopulasie verdwyn kan ons die volgende impak op die web van lewe op die planeet te wagte wees, naamlik:

# Roofinsekte, reptiele, voëls en paddas wat afhanklik is van insekte as voedselbron, sal uitsterf as gevolg van ‘n gebrek aan kos. Ander diere wat weer op paddas, reptiele en voëls voed sal volgende op die lys wees. Uiteindelik sal dooie diere wat heelbo aan die voedselketting staan soos roofdiere en helaas ook die mens, hongersnood en uiteindelik die dood in die gesig staar.

# Meeste blomplante sal nie meer vrugte produseer nie. Die eenjarige plante sal eerste uitsterf en daarmee baie voedselgewasse soos, tamaties, aartapples, pampoene, ens. Omdat die meerjarige plante nie meer vrugte en dus ook nie sade produseer nie en sal dié aanhou leef totdat hul ouderdomsperk bereik is en dan uitsterf.

# Al wat nou nog oorbly is die plante wat met windbestuiwing voortplant, swamme wat op dooie plantmateriaal leef en parasiete.

# Teen hierdie tyd sal die agteruitgang van die lewende bo-grond begin kwyn omdat alle dooie plant- en dieremateriaal nie afgebreek kan word nie. Mettertyd sal die grond verarm, verhard en organies raak. Water kan dit nie deurdring nie en organiese materiaal wat op die oppervlak versamel, word weggespoel. Die gebrek aan ondergrondse belugting as gevolg van die afwesigheid van termiete en miere wat ook dooie plantmateriaal ontbind vir bemesting, sal veroorsaak dat plantwortels vrek.
Hiermee saam verdwyn die laaste plante en grasse.

Inderdaad is dit ‘n somber prentjie. ‘n Gesonde populasie van bestuiwers is krities noodsaaklik om die biodiversiteit en natuurlike ekostelsels in stand te hou. Wanneer jy dus ‘n volgende keer aansit vir ‘n heerlike maal, bon appétit en sê dankie aan die bye en ander insekbestuiwers wat dit moontlik maak dat ons elke dag kos op die tafel het om aan te smul….en stadig met die insekdoders en spuitkannetjies!