Kareebome

Posted in Wild Fruit

Die woord karee het in alle waarskynlikheid sy oorsprong aan die oorspronklike Khoi-woord karri wat heuningbier beteken. Die brousel van kareebessies, gemeng met heuning en water word al vir baie lank gebrou om ’n soet verfrissende alkoholiese drank te verkry.

Daar is ook ’n ryk Afrikaanse taal kulturele erfenis opgesluit in die talle streekname wat aan die plante gegee is: kraaibessie, karaa, suurbessie, bessiebos, koerentabos, hoenderspoor, karri, rooikaree, soetkaree, waterkaree, slaptaaibos, besembos, garaa, brandtaaibos, kareehout en talle ander. Afhangende van waar jy jou in Suid-Afrika bevind, sal hierdie streekname iets van die vegetatiewe kenmerke van die boom verklap. Kombineer byvoorbeeld hoenderspoor + suurbessie en jy sal kan aflei dat die blare van die boom drievoudig saamgestel is, soos ’n hoenderspoor waarvan die middelste toon die langste is en dat die bessies ’n suur smaak het. En dit is presies die mees algemene kenmerk van bome in die genus Searsia, voorheen Rhus.

Die ongeveer 44 Karee-spesies wat aan die Anacardiaceae-familie (Mango), die vierde grootste plantfamilie in Suid-Afrika behoort, kom in verskeie dele van Suid-Afrika voor. Dit is net soos die soetdoring sekerlik een van die mees algemene bome in Suid-Afrika. Eetbare vrugte en sade wat aan hierdie familie behoort, sluit in die mango, pistasio- en kasjoeneute. Die harsagtige stof is giftig in baie spesies soos by die gif-klimop. Talle dorpe, streke, plase, strate, geboue en dies meer is na die bome vernoem. Kareeberg in die Noord-Kaap is vernoem na die groot populasie kareebome wat in die bergreeks voorkom. Kareedouw in die Oos-Kaap is in 1750 deur wit setlaars gestig en die naam het sy oorsprong aan die Khoe-woord wat verwys na die pad deur die kareebome. Die area net buite Bloemfontein naby Glen staan bekend as Karee omdat kareebome die dominante boomspesie in die gebied is.

In die Magaliesberg kom die nanabessie, Magaliesberg-dwergtaaibos, karee, bergkaree, taaibos, riviertaaibos en witwatersrand-kliptaaibos algemeen voor.

Die vrugte word geëet deur voëls soos tiptolle, groenduiwe, tarentale en fisante. Wild soos koedoes, bastergemsbokke en swartwitpense vreet die blare van die boom wat kan dien as ‘n belangrike bron van voedsel in tye van droogte. Die blare is ook waardevolle veevoer, maar die melk van beeste kan ‘n suur smaak kry indien groot hoeveelhede van die plant gevreet word. Al die spesies het taamlike eenderse geel-groen soetgeurige blomme wat bye en ander insekte lok. Kareebome staan ook bekend as ‘waterbome’ omdat die plante nuttig is vir die stabilisering van die oppervlaktegrond wat erosie verminder. Die wortelstelsel verhoog die infiltrasie van reënwater wat die watertafel in die grond verhoog. Die teenwoordigheid van die bome word dikwels deur waterwysers as ’n aanduiding van goeie ondergrondse water gebruik.

Talle sypaadjies in Rustenburg is met kareebome vir koeltebome beplant. Die bas, takkies en blare is ryk aan tannien wat in leerlooiery gebruik word. In die verlede is die harde hout gebruik vir heiningpale, gereedskaphandvatsels en vir dele van ossewaens. Die vrugte is eetbaar en word vandag nog in sekere dele van die land gebruik as ‘n belangrike bestanddeel in die vervaardiging van heuningbier. Volgende week: Wildekoffie.

VRYWARING: Eet slegs wildevrugte wat positief as eetbaar geidentifiseer is. Die outeur en publiseerder van hierdie artikel neem geen verantwoordelikheid vir enige siekte, dood of enige ander ongerief wat veroorsaak kan word by die hantering of eet van enige veldvrugte wat in hierdie artikel beskryf word.