Isihlambezo-brousels

Posted in Wild Fruit

Naas Grové
Bome wek ‘n gevoel van permanensie en stabiliteit in ons menswees ervaring.

Dit het nog altyd ‘n belangrike rol gespeel in die mens se rituele, van die vroegste heilige boomstamme wat aanbid is tot die wonders wat weggesteek is in die dieptes van die klowe van die Magaliesberg...

Tradisionele helers in Suid-Afrika het ‘n uitgebreide materia medica van meer as 5 000 verskillende plantspesies. Hierdie gebruike sluit in voedselvoorsiening en medisinale- en ander gebruike. Materia medica is ‘n Latynse mediese term wat die versamelde kennis beskryf rakende die terapeutiese eienskappe van ‘n stof wat gebruik word vir genesing. Vandag is materia metica algemeen bekend as farmakologie.

Die meeste inwoners van Noordwes staan bekend as Batswana en hul taal is Setswana. Hul onstuimige geskiedenis getuig van oorloë en migrasie oor groot dele van die provinsie tot teen die Kalahari. Hulle het ook ‘n uitgebreide materia medica van die gebruike van inheemse plante in die streek deur die eeue opgebou. Medisinale ditlhare of melemò (bome) word gebruik vir die behandeling van siektes by mense en diere, om blyplekke te beskerm teen onder andere weerlig, vir vrugbaarheid en in reëndans-rituele.

Meeste inheemse plante dra net vir ‘n kort tydjie vrugte en die meeste vrugte word vandag hoofsaaklik as lekkerny gebruik. Die goeie vrugte-eienskappe van die plante het meegebring dat ander dele van die plante ook ontgin is om uit te vind of dit enige ander nuttige gebruike het. Isihlambezo is ‘n kruie-afkooksel wat sy oorsprong by Zuluvroue het en dit word hoofsaaklik gebruik as ‘n voorkomende gesondheid stimulant tydens swangerskappe.

Rhoicissus tridentata subsp. tridentata (boesmandruif) en R. tomentosa (gewone bosdruif) is beide rankers wat dikwels teen ander bome oprank. Dit word gewoonlik in die Magaliesberg tussen kwartsietrotse en in die klowe aangetref. Die druifagtige vrugte van die gewone bosdruif is amper rond, vlesig en verkleur rooi en uiteindelik pers-swart met rypwording (Januarie – April). Alhoewel dit eetbaar is, is dit nie smaaklik nie. ‘n Lekker gekookte jellie word van die vrugte verkry. Die vrugte van die boesmandruif het ‘n frank smaak en sal jou mond uitdroog indien dit geeët word.

Beide die plante se ondergrondse knolle is welbekend in tradisionele medisinale gebruike. ‘n Opgekookte brousel van die knolle word geneem vir menstruele pyne en vir vroulike onvrugbaarheid. Soms word die brousel ook gedurende swangerskappe geneem. Die word ook gebruik vir verkoues, bloeiende maagsere, nier- en blaasontstekeing, rugpyn epilepsie en waansin. Gekookte blare word gebruik vir vrugafdrywing.

Die knolle is potensieël giftig, soveel te meer dié wat in die nat somer maande geoes word. Dit is te betwyfel of kruiedokters bewus is van hierdie toksikologiese uitwerking wat noodlotiig vir pasiënte kan wees.

Volgende week: Tandpynbosse

VRYWARING: Eet slegs wildevrugte wat positief as eetbaar geidentifiseer is. Die outeur en publiseerder van hierdie artikel neem geen verantwoordelikheid vir enige siekte, dood of enige ander ongerief wat veroorsaak kan word by die hantering of eet van enige veldvrugte wat in hierdie artikel beskryf word.