Rosyntjiebosse

Posted in Wild Fruit

Grewias behoort aan die Tiliaceae, die Linde-familie. Die bekendste lid van hierdie familie is die juutplant, Corchorus capsularis, ‘n jaarplant wat gekweek word vir sy sterk vesel waarvan sakke gemaak word. Daar is ‘n hele aantal Grewia spesies wat in Suid-Afrika voorkom, waarvan ongeveer 24 bome word. Die blare is enkelvoudig afwisselend en gewoonlik asimmetries. Elke blaar het 3 tot 7 are wat vanuit die blaarbasis vertak. Die blaarrand is geskulp of getand. Die blomme van die meetse spesies is geel, maar sommige is perspienk of wit. Die vrugte is hard, effens vleserig, een- tot vierlobbig en is eetbaar. Die familie is verwant aan die Malvaceae- (Katoen), Sterculiaceae- (Sterkastaiing) en Bombacaceae- (Kapok) families.

Die oorlewingstrategieë van die San-volkere van die Sub-Sahara, en hoe hulle natuurlike hulpbronne benut het is goed gedokumenteer en bekend aan die meeste ingeligte mense. Net suid van die ewenaar in Tanzanië naby die Grootskeur-vallei woon daar ‘n ander inheemse stam, die Hadza wat al vir ongeveer 1 300 jaar reeds jagter-versamelaars is. Die Hadza se tuisland lê op die rand van die Serengeti-vlaktes in die skaduwee van Ngorongoro-krater. Dit is ook naby die Olduvai-kloof. Hierdie kloof is een van die belangrikste prehistoriese plekke van die wêreld, waar Homo habilis - een van die vroegste lede van die genus Homo - ontdek is wat ongeveer 1,9 miljoen jaar gelede geleef het. Geneties deel die Hadza en die Boesmans van Suider-Afrika een van die oudste genetiese linies van die mensdom.

Die tradisionele gebruike van die rosyntjiebosse strek sover terug as hierdie twee oerbeskawings. Vir baie jare, lank, voordat witmense die oorlewingspotensiaal van die plante waardeer het, was die plante deel van die alledaagse bestaan en oorlewing van dié mense.

Die elastiese kenmerke van die hout is in primitiewe huisstrukture gebruik vir pale, balke, voël- en dierstrikke. Menige kieries, boë, pyle, houtpenne en eenvoudige saalrame is gemaak van die hout van rosyntjiebosse. Vars, dun gedroogte takkies is gebruik vir die weef van mandjies. Droë takkies en bas het die basis gevorm om ‘n vuur aan die gang te kry. Die soet vrugtepulp is vars geëet of gedroog as lekkergoed. Die uitgeparste sap is gegis en gedistilleer in ‘n heerlike bier. Gekookte blare is gebruik as bindmiddel vir souse.

Die gestroopte bas was katalisator om modderige water op te helder en vesels van die bas maak ‘n bruikbare sterk tou. Die as van gebrande blare en hout word gebruik as bleikmiddel om vlekke uit klere te verwyder en in nood dien dit ook as wasseep. Die takkies bevat anti-bakteriese middels wat gekou word en op die manier word die tande skoon gehou.

Vars droë blare word as veevoer in tye van nood gepluk. Dit was die apteek van die primitiewe mens en het ‘n baie belangrike rol vervul in die alledaagse welstand van families. Die binneste bas is gekook en die aftreksel is gebruik as lakseermidel, om borskwale, verkoue, diarree, slangbyte en ontsteking van wonde en derm-onsteking te behandel.
Vandag sal min mense die rosyntjiebos as boom ag. Dit is meestal ‘n klein struik en waar dit goed gevestig is, vorm dit dikwels baie digte stande. Wanneer jy egter weer jouself in ‘n rosyntjiebosland bevind, gebruik jou tyd en beweeg stadig van boom tot boom. In die lente sal jy aangenaam verras word met die pragtige heldergeel blomme wat soos sterre in die daglig skyn. Die plante is gasheerplant vir talle skoenlapperlarwes en bye en insekte is almal op soek na sy eie kwota stuifmeel en nektar.

Wanneer die vrugte ryp word in die laat somer bied die rosyntjiebosland iets vir elkeen. Vir die voëlkyker verseker ‘n kolonie van muisvoëls, tarentale, bosveldfisante, korhane en tortelduiwe. Vir die lekkerbekke sal jy teen sononder die majestieuse koedoe en ‘n steenbok of grysduiker, sien bessies “pluk”.

Wanneer jy dus weer in die Magaliesberg by die kruisbessie, witrosyntjie, skurwerosyntjie of vaalrosyntjie verbystap, verpoos vir ‘n oomblik. Kyk om jou heen, kou aan ‘n takkie, pluk ‘n bessie of twee. As die dors baie erg raak sit twee saadjies onder jou tong – dit het al menige mense se dors geles. Volgende week meer oor die vrugte van mense en bobbejane...

VRYWARING: Eet slegs wildevrugte wat positief as eetbaar geïdentifiseer is. Die outeur en publiseerder van hierdie artikel neem geen verantwoordelikheid vir enige siekte, dood of enige ander ongerief wat veroorsaak kan word by die hantering of eet van enige veldvrugte wat in hierdie artikel beskryf word nie.