Koffiebome

Posted in Wild Fruit

Die legende van Kaldi, - ’n bokwagter - het sy onstaan in die Kaffa-provinsie van die Ethiopiese hoogland gehad. Volgens die mite het Kaldi opgemerk hoe sy bokke energiek begin rondspring nadat hulle van die ryp koffiebessies gevreet het. Hy het self van die bessies geëet en sy opwinding het hom genoop om van die bone na ’n nabygeleë Islamitiese monnik te neem.

Die monnik wat niks van die bone wou weet nie het dit in ’n vuur gegooi. As gevolg van die ryk aroma van die brandende koffiebonne is dit vinnig uit die vuur gekrap, in warm water gegooi en volgens oorlewing het die eerste koppie koffie so sy ontstaan gehad. Die naam koffie het waarskynlik sy naam te danke aan die Kaffaprovinsie in Ethiopië. Die vroeë tradisionele gebruik van die bone was egter nie as ’n drankie nie. Dit is as voedsel gekou of die gemaalde bone is saam met botter in ’n vetkoekvorm voorgesit.

Koffiebone is waarskynlik reeds ’n duisend jaar gelede in noordoos-Afrika en die nabygeleë Arabië gegis om ’n alkolholiese drank te maak en staan vandag nog in die streek bekend as kakwa, gahwa, guhawah, kahawa en vir die meeste westerlinge - koffie.

Vandag word daar gereken dat daar elke dag byna 2,5 miljard koppies koffie verbruik word. Dit is een van kommoditeite in die wêreld waarin die meeste handel gedryf word en miljoene mense is direk of indirek afhanklik van die vervaardiging en verkope van koffie vir hul lewensbestaan.

Coffea arabica afkomstig uit die suidweste van Etiopië is verantwoordelik vir ongeveer 80% van die wêreld se koffieproduksie en C. canephora uit sub-Sahara Afrika, vir die res. Die kafeïen in koffiebone is ‘n natuurlike plant verdedigingsmeganisme teen herbivore. Die giftige stof wat afgeskei word indien die plant bewei word, beskerm die plant en help so dat die sade in oorvloed ryp kan word. Hierdie plante behoort aan die Rubiaceae, die Katjiepieringfamilie.

In Suid-Afrika is dit die grootste boomfamilie met ongeveer 160 spesies. Die plante is baie maklik herkenbaar aan die teenoorstaande blare en interpetiolêre steunblare. In die Magaliesberg kom daar ongeveer 13 spesies in die familie voor en die meeste van hulle is eerder bekend vir die pragtige welriekende blomme. Bruidsbosse (Pavetta spp.) se blomme word dikwels as ruikers tydens bruilofseremonies gebruik, vandaar die Afrikaanse naam. Ander plante in die genus met pragtige blomme sluit in die bosveldkatjiepiering en witklokke.

Die jakkalskoffie se blare is enkelvoudig, ellipties tot lansetvormig en fyn van tekstuur. Die bokant van die blaar is heldergroen en haarloos en die middelaar is prominent aan beide kante van die blaar. Domatia is nie teenwoordig nie. Die blaarpunt en –basis is spitstoelopend en die blaarrand is glad en golwend. Die blaarsteel is 2 – 8mm lank en steunblaartjies is teenwoordig. Welriekende klein trossies wit blommetjies verskyn vanaf Julie – Oktober. Die steenvruggies verskyn onder die blare en is swart by rypwording (Desember – Mei). Die het ’n soet smaak en geroosterde bessies word as plaasvervanger vir koffie gebruik.

Aanstaande week gesels ons oor die blinkblaar-wag-‘n-bietjie...

VRYWARING: Eet slegs wildevrugte wat positief as eetbaar geidentifiseer is. Die outeur en publiseerder van hierdie artikel neem geen verantwoordelikheid vir enige siekte, dood of enige ander ongerief wat veroorsaak kan word by die hantering of eet van enige veldvrugte wat in hierdie artikel beskryf word.