Wat gaan (werklik) aan met die krag?

Posted in Home

Die redakteur,

Daar is beslis fout met Rustenburg se kragstelsel, of dit nou is omdat daar kabeldiefstal plaasvind of omdat die stadsraad net blatant van plan is om ons almal in die donker te los.

Ons is nou al verskeie kere, nie net op Dinsdag (1 November), af en ek begin te wonder waarom presies die stadsraad nie bereid is om vir ons te sê presies wat fout is nie. Nou praat hul van kabels wat gesteel word en ja, ek verstaan daar is ‘n kabeldiefstalprobleem in ons omgewing, maar dan het ek ook by ‘n goeie vriend van my gehoor dat daar aluminium kabels gebruik word en hierdie kan nie gesteel word nie.

Daar moet drastiese stappe geneem word om verandering in Rustenburg te bring.

Indien kabeldiefstal so groot probleem is, maak die inwoners attent daarop, laat weet ons hoe ons kan help om die polisie te laat weet wanneer daar kabels gesteel word. Maar indien die probleem elders lê gaan die Rustenburg stadsraad moet openlik met sy inwoners praat.

Dit raak nou tyd vir Rustenburg se mense om die regte vrae te begin vra.

Moeg sonder krag wees