RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Die plaaslike tak van Solidariteit Helpende Hand het die afgelope Saterdag, 8 November, "Die waarde van dienende vroue" gevier tydens 'n damestee by die NG-kerk Proteapark.
Die program het daarop gefokus om vroue wat in die gemeenskap dien, te bedank en te bemoedig vir die onbaatsugtige take wat hulle daagliks ten bate van ander verrig.
Die vroue is heerlik bederf met eetgoed en geskenkpakkies, maar die hoogtepunt van die oggend se program was ongetwyfeld die twee gassprekers.
Sanmarie Lamprecht van Standing Tall Coaching, het aan die hand van haar persoonlike stryd met kinderloosheid die dames bemoedig om "rou te ruil vir vreugde". Sy het vertel hoe sy deur haar emosies in die gesig te staar en deur dit te werk, uiteindelik ook saam met ander vroue Moedersdag en ander spesiale geleenthede kan vier, instede van om dit te vermy.
Sy het ook 'n praktiese sessie gelei waarin die vroue kon oefen hoe om hul asemhaling te reguleer en hul gevoelens van oorweldiging of bekommernis te kalmeer - om weer stilte en gemoedsrus te ervaar.
Suzette Oosthuizen, 'n maatskaplike werker met 'n lang geskiedenis van dien en gee, het die vroue bemoedig met die gedagte dat almal op-en-af dae het en dat almal maar 'n bietjie "kan sit" as hulle moeg word en die lewe te swaar druk. "Maar dis belangrik om weer op te staan."
Na afloop van die geleentheid het sy opgemerk: "Dít is die hart van haar diens. Nie die groot, sigbare dinge nie, maar die klein, stil dade wat die wêreld bymekaar hou. Ek dink God glimlag oor sulke vroue. Die wat dien sonder applous. Die wat gee sonder om terug te verwag. Ons dien nie om erkenning te kry nie. Ons dien omdat ons harte vol is van die liefde van Jesus."









