RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Louis Meintjes - ongetwyfeld die beste fietsryer wat Rustenburg ooit opgelewer het en sekerlik een van die twee, drie beste ryers in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse fietsry - het sy fietsryskoene uitgetrek, sy fiets opgehang en sien uit na so ietwat van 'n rustiger, minder "gejaagde" lewe.
Pas nadat Louis op Saterdag, 11 Oktober, die eindstreep van die 2025-weergawe van Il Lombardia - 'n eendag-fietswedren in Lombardië, Italië - oorgesteek het, het hy aangekondig dat hy klaar is met professionele fietsry en dat hy nou gereed is om ook 'n bietjie die "ander kant van die wêreld" te geniet - sekerlik 'n gepaste wyse om 'n internasionaal bekende fietsryer se swanesang en uittrede uit die fietsrysport te beskryf.
Die Il Lombardia is toevallig een van die oudste eendag-fietswedrenne op die UCI (die beheerliggaam van internasionale fietsry) se fietsrykalender en een van vyf sogenaamde "Cycling Classics" - almal eendagwedrenne wat uiters gesog is onder die room van die wêreld se voorste fietryers. Die eerste "uitgawe" van die Il Lombardia het in 1905 plaasgevind en Louis het dit goedgedink om sy fietsryloopbaan te midde van 'n monumentale fietswedren af te sluit.
Maar Louis se legendariese fietsryloopbaan sal waarskynlik nie vir sy laaste wedren onthou word nie - nee, daarvoor was Louis te veel van 'n prominente deelnemer aan sogenaamde "Grand Tours" - 'n terrein wat hy met verbasende gemak en wonderlike prestasies betree het. 'n Mens moet nooit vergeet dat die Tour de France - net soos die oorblywende twee Grand Tours “die speelplek” van die wêreld se 200 tot 240 heel beste fietsryers is. Onder hierdie was die gesogste van almal - die Tour de France asook die Giro de Italia en die Vuelta a Espana - die enigste drie wedrenne wat as "Grand Tours" geklassifiseer word. Op hierdie vlak het 'n skraal jong kannetjie van Rustenburg in die vorm van Louis Meintjes, nie noodwendig op verrassende wyse nie, vir onvergeetike prestasies in die wêreld se gesogste fietswedrenne gesorg.
As uitstekende klimmer sal Louis altyd onthou word as die enigste ryer uit die Afrika-vasteland wat by herhaling 'n Top Tien-posisie in die Algehele Klassifikasie van die Tour de France kon behaal en sy sewende plek algeheel in 2022 is die beste GC-klassifikasie ooit vir 'n ryer uit Afrika. Louis het altesaam drie keer onder die Top Tien in die Tour de France geëindig met twee agtsteplekke in 2016 en 2017 en net toe baie mense gemeen het dat hy hierdie prestasie nooit weer sou herhaal nie - eindig hy vyf jaar na sy vorige beste vertoning in die 7de plek algeheel in die wêreld se mees ikoniese fietstoer.
Hy loop by hierdie geleentheid 'n skofoorwinning in die moordende Alpe d'Huez-bergpremie net-net mis toe hy met enkele sekondes deur die Britse fietsryer Tom Pidcock geklop word om vir die eerste en enigste keer met 'n tweedeplek in 'n Grand Tour-skof te eindig. Hy behaal egter wel 'n rapsie later dieselfde jaar sy eerste skofoorwinning in 'n "Grand Tour" en wel by die "Pes Praeres" tydens die Vuelta waarmee hy homself onteenseglik as een van die wêreld se bestendigste klimmers onderskei en eindig. Sy ander twee Top Tien-klassifikasies in sy loopbaan was toevallig ook die Vuelta a Espana en wel in 2015 en 2020.
Louis se fietsryloopbaan het as jong kannetjie begin toe hy die wêreld van professionele fietsry as lid van die MNT Qhubeka-span betree het. Nie lank hierna nie, verstom hy Suid-Afrikaanse fietsrygeesdriftiges toe hy as 20-jarige die Suid-Afrikaanse Nasionale fietsrykampioenskappe wen. Hy eindig boonop tweede tydens die UCI se Padfiets-wêreldkampioenskappe om met sy heel eerste internasionale fietsrymedalje te spog. Hy word sodoende die enigste fietsryer op die Afrika-kontinent om 'n medalje tydens die wêreld se padfietskampioenskappe te wen. Louis ry ook vir die internasionaal-bekende Lampre-Meridaspan, daarna vir Dimension Data en uiteindelik vir Intermarché Wanty onder wie se kleure hy sy skofoorwinning van 2022 in die Vuelta a Espana behaal het - 'n prestasie wat hom baie lank ontwyk het.
Die volgende fase van Louis se lewe gaan egter alles behalwe rustig wees. Hy en sy vrou, Laura, wat die afgelope ses, sewe jaar in Andorras Spanje woon, verwag 'n tweeling wat in November vanjaar hul opwagting sal maak. Louis se ouers - Johannes en Gill Meintjes - is na baie jare steeds bekende inwoners van die Platinastad. Louis het ook 'n broer (André) wat in Pretoria woon.









