• Bride of the year competition

Beesstert en stampmielies

Posted in *VLU Recipes

Soos reeds vroeër aangedui begin Rustenburg Herald se gereelde rubriek “Raak die ‘klits’ kwyt” vandeesweek met ‘n splinternuwe, opwindende reeks kos/kookartikels in samewerking met die Platinastreek van die Vrouelandbou-unie. Ons lesers sal letterlik met die lekkerste, gewildste en spoggerigste geregte, poedings, koeke, terte en tradisionele Suid-Afrikaanse lekkernye in die land kan kennis maak. Vandeesweek skop ons af met ‘n kuier in die kombuis van Istella van Rhyn-Nel, sekretaresse en skakelbeampte van die VLU se Platinastreek. Istella lui ons reeks in met ‘n immergewilde gunsteling - beesstert en stampmielies...

Bestanddele
1 tot 2 beessterte (afhangende van die grootte van die stukke);
3 gekapte uie;
2 wortels in ringe gesny of ‘n klein pakkie babaworteltjies;
3 aartappels in agtstes gesny;
1 teelepel fyn knoffel;
1 pakkie Knorr “Cook in Sauce Hot Pot”;
½ teelepel kerriepoeier;
sout en peper na smaak;
2 koppies water;

Gebruik jou stoompot/drukkoker...
Metode;
Braai die uie en knoffel in olie tot uie deurskynend is en skep uit. Braai die beesstert tot mooi bruin. Sit dan die uie terug in die drukkoker/stoompot, voeg jou water asook sout en peper by. Stoom op hoog vir 30 minute, toets of vleis sag is, indien nie, stoom vir ‘n verdere 10 minute - maak seker daar is genoeg vloeistof in die pot.

Voeg nou die aartappels en wortels by en stoom vir 5 minute. Meng nou die Knorr-souspoeier en kerriepoeier wat met ‘n halwe koppie water aangemaak is. Kook nou (nie stoom nie) ‘n verdere 10 minute tot die sous lekker dik is, verwyder van stoof en dien op. Vir hierdie heerlike gereg het Istella stampmielies en vingerlek-lekker ingelegde soetsuur heel peppadews bedien. Ons glo die meeste mense weet hoe om stampmielies te maak. Istella maak haar ingelegde soetsuur peppadews so:

Bestanddele
Plastiekhandskoene (‘n moet - en sorg dat hande wegbly van die oë);
2 kg peppadews waarin stingels afgesny en pitte uithaal is. Dit moet ‘n “koppie” vorm;
1 eetlepel growwe sout;
Koue water om te bedek;
750ml wit druiwe-asyn;
2½ koppies witsuiker;

Metode
Maak peppadews skoon en plaas in skottel met water en sout oornag, sorg dat peppadews mooi onder die water is. Spoel volgende dag goed af en gooi in vergietes om water te dreineer. Gooi asyn en suiker in swaarboomkastrol en verhit tot suiker opgelos het, sodra begin borrel, sit peppadews versigtig in en kook vir 3 minute, haal dan af van stoof (moet nie pap kook nie).
Sit in droë warm gesteriliseerde bottels en vul op met vloeistof. Sorg dat alle borreltjies uit is, skroef toe en laat staan vir minstens 3 weke voor gebruik. Indien vloeistof te min is, kan daar eenkant nog gekook word en bygevoeg word. Bedien met enige gereg, vul met maaskaas of feta en bedien as ‘n versnapering. Dit kan selfs in deeg gedoop en gebraai word. Vul die holte met fetakaas voordat dit in deeg gedoop word.

Bloubessie Yskastert

Posted in *VLU Recipes

Gereelde lesers van ons Raak die ‘klits’ kwyt” sal in alle waarskynlikheid ons opwinding deel oor die nuwe reeks kookartikels in samewerking met dames van die Vrouelandbou-unie se Platinastreek wat verlede week in die Herald begin het (hoe dan nou anders as met ‘n immergewilde lekkerny soos ‘n heerlike beesstertresep?)

Vandeesweek se sessie in die VLU-kombuis is ook ‘n treffer maar nee, hierdie week nie kos nie, maar baie gepas vir die hittegolf-toestande wat ons die afgelope klompie weke reeds beleef, sal hierdie lekker happie gewis lafenis bied. Ons kuier by Santie de Wet- tot onlangs nog van die Marikana-tak maar nou van die VLU se Volmoed-tak wat vir ons werklik iets unieks maak. Rustenburg Herald het die afgelope drie, tot vier jaar by heelparty geleenthede oor die Overvaal Protea- en Vrugteplaas teen die hange van die Magaliesberg neffens die Buffelspoortvallei geskryf. Daarom dat ons sonder huiwering kan sê dat Santie vir ons ‘n uiters unieke yskastert maak - ja werklik uniek - ‘n Bloubessie-yskastert waarteen die spreekwoordelike pot lensiesop nie ‘n kans staan nie - glo my! Santie se Bloubessie-yskastert lyk so:

Bestanddele
Stroop
250 g vars bloubessies (ja ons weet - en as dit vir jou soos vir baie ander feitlik ontmoontlik is om dit in die hande te kry - koop jy sommer ‘n blikkie ingelegde bloubessies by “Woolies” man...)
50 ml water
2 eetlepels suiker
1 eetlepel suurlemoensap

Met bogenoemde 4 bestanddele maak jy jou stroop aan (sien later in die metode);
Dan ook twee teelepels effens hoogvol mielieblom

Kors
1 pak tennisbeskuitjjies (fyn gemaak)
4 eetlepels botter;
2 eetlepels suiker;

Vulsel
1 houer geroomde (plain) maaskaas
1 blik (385 g) volroom-kondensmelk
4 eetlepels suurlemoensap
1 teelepel Vanielje-ekstrak (Vanilla Essens)
1 houer (250 ml) vars room
1 tot 2 teelpels gelatien geweek in ‘n ¼-koppie warm water.

Metode
Kors
Smelt botter en suiker saam. Druk tennisbeskuitjies fyn en meng met gesmelte botter en suiker. Druk vas in tertbord en sit in yskas.

Bessiestroop
Kook bloubessies, water en suiker saam oor stadige hitte terwyl jy aanhoudend roer vir nagenoeg 5 minute. Meng 2 teelepels mielieblom met bietjie water en roer in bessiemengsel en kook vir nog 2 minute terwyl aanhoudend geroer word. Haal van plaat af en roer 1 eetlepel suurlemoensap in en laat afkoel.

Vulsel
Smelt gelatien in kookwater en laat afkoel. Klop room styf. Roer suurlemoensap en vanilla-ekstrak by kondensmelk. Meng maaskaas by kondensmelkmengsel. Vou styfgeklopte room in mengsel.

Meng gesmelte afgekoelde gelatien by en gooi alles in ystertdop. Versier met vars bessies en afgekoelde stroop of net met die afgekoelde stroop. Plaas in yskas vir ongeveer 12 uur.

Die beste resultate word verkry as die tert ‘n dag voor die tyd gemaak word en in die yskas geplaas word. Onthou om volroom kondensmelk te gebruik. Haal uit net voor bedien word en geniet!

Outydse melktert

Posted in *VLU Recipes

In ons nuwe reeks oor gewilde tradisionele resepte in samewerking met die Platinastreek van die Vrouelandbou-unie, skep ons vandeesweek in die derde aflewering van dié reeks ons bordjies propvol “Outydse Melktert”. Die bekende tant Susan Loots van Modderfontein (sowat 20 kilometer vanaf Rustenburg op die Wigwam-pad) en haar getroue huishulp Lizzy Kheswa was in die kombuis agter die stoof.

Mense, ons hoef seker vir niemand in Suid-Afrika te vertel dat ‘n melktert ‘n lekker “ding” is nie, maar boeta, wag tot jy “outydse” melktert geproe het! Outydse melktert smaak heeltemal anders as “gewone” melktert en die gelukkige ou met ‘n porsie op sy bordjie, sal verskoon word as hy meen dat hy dalk iets anders as melktert op sy vurkie het. Geen mens by sy volle positiewe sal ooit sy neus vir melktert kan optrek nie, maar “outydse” melktert van Susan Loots is iets uit heeltemal ‘n ander wêreld.

Moet nou nie, terwyl u vandag die geleentheid het om die hande op ‘n werklik unieke resep te lê, die kans laat verbyglip nie. Ons het dames (en mans en trouens almal wat in bak en brou en kook belangstel) aangeraai om ‘n plakboek met hierdie spesiale reeks VLU-resepte te begin en vir die nageslag te bewaar. Jy sal nooit spyt wees nie as ‘n mens die gewone melktert en hierdie “outydse” melktert kan bak, kan jy jouself ongetwyfeld as ‘n bakker van formaat uitgee...

Susan vertel graag dat hierdie resep van haar ouma kom - “ouma” was ‘n skoondogter van president Paul Kruger en dit is nie te betwyfel dat hierdie resep een van haar gunstelinge was nie. “Dit was ‘n gesukkel om die resep by ouma af te neem. Ouma het nie juis geglo in geskrewe of opgetekende resepte nie. Terwyl sy eendag by geleentheid besig was om vir my moeder te verduidelik hoe om “Outydse” melktert te maak, was ek vining byderhand met die pen en papier en so ken ek die resep vandag nog...

Kors
6 eetlepels (hoogvol) meelblom 
1 eetlepel (hoogvol) botter
1 eetlepel vet (hoogvol - jy kan die vet met ‘n tweede eetlepel botter vervang...)
2 teelepels bakpoeier;
1 eetlepel suiker
‘n knippie sout.
Frummel alles deurmekaar en maak aan met 2 geklitste eiers.

Vulsel
6 koppies melk
1 koppie meelblom
1 eetlepel botter (hoogvol) - frummel bogenoemde drie bestanddele deurmekaar.
‘n Bietjie sout

Kook melk en roer meelmengsel in. Kook tot gaar. Haal van stoof af en voeg nog 1eetlepel botter by. Klits 5 eiers en voeg dit ook by. (Eers bietjie-vir-bietjie pap by eier todat die eier warm is. Voeg 1 koppie suiker by. Strooi suiker gemeng met pypkaneel oor nadat die pap in die rou kors gegooi is. Bak vir nagenoeg 25 minute in warm oond teen ongeveer 190°C. Laat effens afkoel en bedien louwarm saam met koffie of tee. Altyd lekker - warm of koud!

Spinasie & Fetta Quiche

Posted in *VLU Recipes

Vir die volgende twee weke kuier ons by Alet Stanford van Buffelspoort Eco Park wat in die hele Rustenburg-omgewing baie bekend is vir haar “ontroosbare” lekker Spinasie & Feta Quiche. Hierdie is ‘n goeie voorbeeld van een van daardie smaaklike, maklike en uiters bekostigbare geregte wat in ‘n japtrap gemaak kan word as jy weet die familie of vriende kom kuier en jy wil graag ietsie voorberei wat ietwat van ‘n verrassing is, maar ook maklik om te maak sodat jy nie die hele tyd in die kombuis hoef te staan nie. Natuurlik moet dit ook baie vullend wees sodat jy nie ‘n klein rukkie weer hoef te sien dat die gaste oor hul magies vryf nie.

By Alet was ons regtig baie gelukkig dat ons behoorlik kon wegval aan dié Quiche maar ook bederf is met ‘n lekker nagereg waaroor ons volgende week gesels. Alet maak haar Spinasie & Feta Quiche soos volg:

Bestanddele
Deeg/kors 
100 gm botter of margarien
250 ml koekmeel (1 koppie)
125 gm geroomde (gladde) roomkaas
rooipeper & sout na smaak

Voorverhit die oond tot 180 °C. Meng alle bestanddele tot deeg in ‘n voedselverwerker of elektriese menger. (Trouens, ‘n houtlepel werk ewe maklik). Voer die boom en kante van die gesmeerde tertbord uit met deegkors... (Klein Quiche-pannetjies is ook ideaal).

Vulsel
3 eiers
250 ml room of melk (1k)
5 ml bakpoeier (1 tl)
30 ml koekmeel (2 eetlepels)
sout & peper na smaak
250 ml gerasperde cheddarkaas (1 k)
125 ml gaar spinasie
60 gm fetakaas
250 gm, spekvleis fyn gemaak, gesny en gebraai.

Metode
Meng al die bestanddele (behale die kaas en gaar spinasie) met draadklitser of menger. Sit nou gekrummelde fetakaas bo-op die deeg.

Strooi dan die gaar spekvleis bo-oor. Die spekvleis moet nie te hard gebraai word nie. Bedek nou met gaar spinasie. Gooi dan die eiervla oor, strooi gerasperde kaas oor.

Bak in die voorverhitte oond vir ongeveer 30 tot 45 minute tot die vulsel mooi stewig gestol is. Bedien sommer so warm of teen kamertemperatuur.

Onthou: Die van julle wat hierdie resep in die volgende week of wat op die proef gestel het, sal min twyfel hê dat Alet se resepte (soos maar almal van die VLU-dames) die moeite werd is om voor te wag. Daarom dat ons julle nou reeds kan waarsku - Alet maak volgende week vir ons ‘n heerlike appeltert - kry sommer nou reeds die pannetjies reg - hierdie is net so lekker - ons praat uit ondervinding!

search our recipes