• Bride of the year competition

Spicy Butternut Soup

Posted in Soups

Everyone will tell you that there is nothing better to “combat” the winter cold than a steamy, hot cup or bowl of soup. South Africans are renowned for their love of soup and their creativity when it comes to preparing some of the best soups around. Come to think of it – we never had real delicacies such as mushroom or butternut soup in our teenage years.
When I was a young boy, we had the ever-popular bean soup on the table several times throughout the long and hard winter months. But being a boy in his early teens the winter really wasn’t a problem and we didn’t really care for bean soup. It was only much later in my life that I realized that good old “South African soup” has become just as much tradition as biltong and droë wors…
Earlier this week Rustenburg Herald were the guests of the well-known Professional Cooking Academy where Lizelle van der Walt showed us to cook up a great bowl of Butternut soup served with a selection of freshly baked bread.

Lizelle made it this way:

Ingredients:

1 kg butternut, cubes
2 tbsp olive oil
1 tbsp butter
1 red onion
1 tbsp crushed garlic
1 red chilli
800ml vegetable stock
4tbsp cream

Method:

Heat oven to 200 °C, roast butternut in the oven till golden and soft.
While the butternut cooks, melt the butter with the 1 tbsp of olive oil, add the onion, garlic and chili.
Cover and cook on a very low heat for 15-20 minutes until onions are completely soft.
Remove the butternut from the oven, tip into the pot, add the stock and cream, then blend with a stick blender until smooth.
Gently re-heat, adjust the consistency, season to taste.
Serve with a dash of cream and chopped chili.

Sop ‘n regte randrekker en verdryf die winter se byt

Posted in Soups

‘n Lekker kaggelvuurtjie, ‘n warm kombers, ‘n blokkie “sjoklits” vir die troos as die fliek ‘n regte tranetrekker is en wat dink jy skort nog? Maar natuurlik – Sop! Ja, in Suid-Afrika en seker maar die hele wêreld is sop hoog bo-aan die lys as dit by winterkosse kom en omtrent elke familie in die land het sy eie “geheime” sop wat dan nou so lekker, maklik en “goedkoop” is…

Sop is seker ook maar een van daardie dinge wat ‘n mens met die tyd leer geniet – toe ons kinders was en pa Saterdagoggende die saggeweekte boontjieskilletjies so tussen die duim en voorvinger begin “afdop” (ja, pa het van sy boontjiesop afgedop gehou), het ons geweet – “vanaand moet ons maar weer druk op die brood want is daar is alweer sop op die tafel…” Min het ons geweet hoe ons in ons latere jare na ons kinderdae se soppotte sou verlang as die kombuis oor wintersnaweke ene boontjiesop ruik

So, in hierdie aflewering van “Raak die ‘klits’ kwyt” voor die winter heeltemal verby is, Lezel Smith en haar familie se “geheime” groentesop. (Terloops, in ons huis is dit tradisie dat Saterdag en Sondag se Wimbledon-finaal nie hand-aan-hand gaan met aarbeie en room soos die Ingelse nie, maar met regte egte Suid-Afrikaanse boontjiesop natuurlik. Die afgelope naweek was geen uitsondering nie).

 Lezel se groentesop

Bestanddele:

1 pak lekker sopvleis (500 g)
1 ui
2 wortels
2 tamaties
2 aartappels
2 preie (leeks)
2 bossies pietersielie
2 bossies seldery
2 rape
1 pakkie beesstertsop
Twee handevol spaghetti in kleinerige stukkies gebreek
1 koppie 3 in 1 sop mengsel
10 -14 koppies water
Sout en peper na smaak

Metode:

Rasper al jou sagte groentes. Sny die sopvleis in kleinerige blokkies. Gooi die blokkies sopvleis in jou drukkoker, voeg 14 koppies water by. Voeg al die gerasperde bestanddele en spaghetti in die drukkoker en sout & peper na smaak. Roer al die bestandele deeglik deur. Stoomkook vir sowat 45 minute. Haal dan van hitte af, roer ‘n pakkie beesstertsop wat tot ‘n dikkerige pasta aangemaak is by en kook sonder ‘n deksel vir nog sowat 10 minute teen matige hitte. Laat effens afkoel en jy is gereed vir ‘n feesmaal! Sop is heerlik op sy eie of saam met ‘n liggies-gebotterde broodjie.

 

Geurige Biltong- en kaassop

Posted in Soups

Mense wat die afgelope naweek met hul koue voete onder die kombersies gesit en rugby kyk het (of sommer net eenvoudig koud gekry het) het seker al gewonder hoekom ons al so "diep" dié winter in nog nie 'n lekker sopresep in ons weeklikse "Raak die 'klits' kwyt" opgedis het nie. Wel - ons wil amper sê liewers laat as nooit - minstens weet ons nou dat die winter inderdaad hier is - dus - hier is 'n sopresep wat jou beslis sal laat huis toe skryf of verlang...
Jolene Fourie is 'n jong mamma wat weet hoe om 'n lekker wintersop aan te slaan.

Biltong- en kaassop klink dalk moeilik of ingewikkeld maar dit is glad nie die geval nie en boonop sal jy ryklik met komplimente beloon word wanneer jy hierdie sop aandra tafel toe. Jou gaste sal in elk geval lankal "snuf in die neus" gekry het dat hier iets groots besig is om op die stoof te gebeur.
Jolene maak haar Biltong- en Kaassop so:

Bestanddele

125 g Margarien
2 telepels growwe swartpeper
sout na smaak
halwe telepel neutmuskaat
halwe telepel koljander/gemengde kruie
250 ml gerasperde kaas
1 koppie koekmeelblom
1.5 l kookwater
500 ml melk
250 ml room
250 g biltongpoeier (fyngekerfde biltong)
250 g droë gekerfde biltong

Metode

Smelt die botter en al die speserye saam - sif die meel by. Klits die melk en water bietjie-vir-bietjie by en roer gereeld om seker te maak dat daar nie klonte vorm nie. Kook vir ongeveer 10 minute.
Meng die room, kaas en biltongpoeier en gekerfde biltong by en maak seker dat al die kaas gesmelt is.
Bedien. Dié resep behoort genoeg te wees vir ses persone, behalwe wanneer jou gaste baie honger is of wanneer dit baie koud is.

Murgpampoentjie & Brie en gebraaide Soetrissiesop

Posted in Soups

Die afgelope klompie maande is Rustenburg behoorlik ‘n vrekwarm, half onsmaaklike plek en enigiemand sal verskoon word om te dink dat dit seker nie nou die regte tyd vir sopmaak is nie. Dalk so, maar wie weet, die SA Weerdiens kom geruime tyd al gereeld met voorspellings dat “groot reën” vir Suid-Afrika op pad is en dat daar so ‘n bietjie dieper die jaar in, baie sopnat, mistroostige dae vir ons voorlê. Dit is met hierdie tyd in gedagte dat ons huisvrouens en kosmakers hierdie heerlike sopresep van Priscilla Löhmann teen die yskas moet hou en sorg dat die groenterakkie nie onverwags leegloop nie.

Priscilla is die lig in die lewe van Andries Erasmus en aanstaande skoondogter van bekende Rustenburgers – Jan en Elmarie Erasmus. Dit is duidelik dat Priscilla haar slag by die kospotte ken en met iemand wat so handig met die soplepel is, kan enige winter maar kom… Die unieke van Priscilla se sop in hierdie week se uitgawe – is ‘n kombinasie van twee ewe-lekker soppe – ‘n murgpampoentjie & Brie-sop en die tweede deel – ‘n oondgebraaide Rooi-soetrissiesop… Dit word só gemaak:

Bestanddele
2 mediumgrootte uie (gekap);
30 ml botter/margarien;
3 mediumgrootte patats in blokkies van 1cm gesny;
800 g murgpampoentjies met die punte afgesny en in stukkies van 4 tot 5 cm gesny;
15 ml groente-aftreksel opgelos in 500ml warm water;
1 brie-kaas;
1 Portugese rolletjie in snytjies;
Olyfolie om broodjies te smeer;

In ‘n medium tot groot pot, smelt die botter/margarien oor medium tot lae hitte en laat “sweet” die uie vir 5 tot 7 minute todat dit sag en deursigtig is. Verhoog die hitte en voeg die patats en murgpampoentjies by. Voeg die groente-aftrekselpoeier/watermengsel by en verminder die hitte tot medium sodra dit begin kook. Kook todat die murgpampoentjies en patats sag is. Rooster jou broodjies tot goudbruin. (Moet nog nie opdien nie…)

Oondgebraaide soetrissie-sop (rooi)
Bestanddele
4 medium tot groot rooi soetrissies;
10 medium tamaties;
Knoffel;
4 medium rooi uie;
15 ml groente-aftreksel (poeier) opgelos in 500 ml warm water.
Origo;

Voorverhit jou oond tot 190 °C. Verdeel die soetrissie, uie en tamaties in kwarte, voeg ‘n bietjie olyfolie by en plaas met die velkant ondertoe op waspapier en voeg knoffel en nog ‘n bietjie olyfolie by. Geur met sout, peper en origo. Braai vir ongeveer 30 minute en plaas daarna in pot met die groente-aftreksel en watermengsel en laat kook oor hoë nitte. Verminder hitte tot medium en laag wanneer mengsel begin kook. Laat prut vir nog 30 minute en bedien dan altwee soppe in een bordjie saam (‘n skeppie of wat van elk) met roosterbrood en oondgebraaide olywe.

So asof die weer ons gedagtes gelees het – teen Dinsdag toe ons hierdie resep persgereed het, het die reën begin uitsak. Dankie Priscilla.

Tom Yum-sop met kokosneutmelk

Posted in Soups

In hierdie week se kook vertel ons ‘n storie met ‘n tragiese nadraai wat tans in hogerige kringe opslae maak. “Pin” Promkhot is ‘n Thaise meisie wat die afgelope 18 maande al (met die nodige dokumente en permitte) in Rustenburg by Michael en Elsa Doubell woon en binne enkele weke met Christo (Elsa se seun) in die huwelik bevestig sou word. (Hopelik gaan dit nog voort - sien later in ons artikel...).

Elk geval - Elsa en haar aanstaande skoondogter het ons voorverlede week genooi om ‘n tradisionele Thaise Tom Yum-sop met Kokosneutmelk te kom geniet. Uiteraard het ons bygestaan toe dit voorberei is. Vir ons mense wat lief is vir sop, kan hierdie resep gerus in die lig van die komende winter eenkant gesit word. Elsa en Pin maak dit so:

Bestanddele
4 tot 6 koppies hoenderaftreksel; 
1 takkie sitroengras (lemongrass) fyngemaak of 4 eetlepels gevriesde voorbereide sitroengras (beskikbaar by die meeste Indiërwinkels)
3 tot 4 huisies knoffel, fyngekap;
3 eetlepels vis-sous;
‘n Goeie handvol vars shitake sampioene, dun gesny;
12 mediumgrootte rou garnale met doppe verwyder;
½ blikkie hoë-kwaliteit kokosneutmelk of ½ blikkie ingedampte melk (Ideal);
1 eetlepel vars lemmetjiesap;
‘n Derde koppie vars koljander, (cilantro) grofgekap;
Opsioneel: ½ teelepel suiker;
Opsioneel: Ekstra groente van jou keuse - nie te veel nie!

Metode
Gooi hoenderaftreksel in ‘n dieperige kastrol en laat kook;

Voeg die sitroengras (lemongrass) by en laat kook vir 1 tot 2 minute. As jy vars sitroengras gebruik, gooi sommer ‘n paar stukkies van die stingel in vir ekstra geur.

Voeg die knoffel, chili en lemmetjieblare en sampioene by. Verminder die hitte en laat saggies prut vir 1 tot 2 minute. Voeg die garnale en ander groente van jou keuse soos kersietamaties en broccoli by en laat prut vir 3 tot 4 minute of tot die garnale pienkerig en ferm is.

Verminder hitte tot meduim-laag en voeg die kokosneutmelk en vis-sous asook lemmetjiesap by. Roer goed om te vermeng en laat saggies stowe tot warm. Toets die sop vir sout en speserye, voeg meer vis-sous by as sout indien nodig.

Jy kan ook ‘n bietjie ekstra chili byvoeg as jy verkies. Indien te sout, voeg ‘n halwe teelepel suiker by. Indien dit te geurig of sterk is, voeg ‘n bietjie ekstra kokosneutmelk by.

Bedien in bakkies met vars koljander bo-oor. Vir ‘n bietjie ekstra geur, kan jy Thai chili-sous byvoeg.

Vir hul weergawe het Pin en Elsa ‘n bakkie heerlik-gekookte Thai-rys saam bedien - ‘n heerlike kombinasie!

search our recipes