• Bride of the year competition

Die lekkerste slaai ooit kom uit 'n brood

Posted in Salads

Goed, goed, ons weet die meeste van ons mense wil in hierdie stadium (op die uiterste vir die volgende week of twee, dalk drie...) niks van kos, lekkergoed, soetgoed, gaskoeldrank, koeke, terte en tipiese Suid-Afrikaanse vetmaakbederfies weet nie. So tradisioneel soos vrugtekoek vir Kersfees, so is dit seker nou al tradisie dat Suid-Afrikaneers elke jaar vir die eerste klompie weke van elke nuwe jaar op dieet is. Almal is behoorlik keelvol vir die oordadigheid wat in die pasafgelope feesseisoen grotendeels aan die orde van die dag (en nag) was. 

Bowendien is dit die afgelope klompie weke al so warm dat geen mens dit in 'n warm kombuis wil waag nie, so nee, ons sal julle nie kwalik neem as julle dalk met geligte wenkbroue na ons kookrubriek loer nie. Daarom dat ons dit goedgedink het om ons lesers te verras met 'n vars, verfrissende slaai wat jy in jou dag des lewens nie gedink het is moontlik nie. Al gehoor van "broodslaai"? Ja, jy't reg gehoor - broodslaai - kan jy jou indink dat die lekkerste slaai ooit uit 'n brood kom en dat dit selfs lekkerder as rysslaai of die immergewilde aartappelslaai is?
Ja, ons wou dit ook nie glo nie, maar glo ons vry - 'n lekkerder slaai as broodslaai sal jy nie maklik op jou tafel kry nie - ongelukkig egter, ietwat anders as in die geval van aartappelslaai, verg die broodslaai nogal heelwat handewerk en 'n bietjie meer moeite, maar daar is geen twyel dat die opregte komplimente aan jou etenstafel die bietjie ekstra moeite dubbel en dwars die moeite werd sal maak nie.
Vir die wat wonder - hoewel nie heeltemal onbekend nie, het broodslaai onder die "afgelope" generasie so ietwat in onbruik verval - miskien omdat ons mense deesdae meer op die uitkyk is vir goed wat verbruikersvriendelik is - kitsoplossings en -metodes is mos die wagwoord. Nouja, wyle mev Cecile Kemp, oudste suster van mev Orpa Boonzaaier van Rustenburg en ouma van Loulené Jacobs, was 'n huishoud(des)kundige by uitstek wat al twee gesogte resepteboeke gepubliseer het. Haar broodslaairesep is ongetwyfeld 'n treffer en haar kleindogter (Loulené) het dit oor die pasafgelope kersvakansie vir tydens 'n familie-ete vir ons voorgesit. 'n Mens maak dit so:

Broodslaai
Sny 'n witbrood op in blokkies van 1½ cm en braai in diep olie 'n dag voor jy dit benodig. Laat dit oornag oop. Let wel - broodblokkies kan ook in die vrieskas gebêre word.

Sous
4 eiers
375 ml suiker
7 ml droë mostert
250 ml wit asyn
250 ml kaasblokkies
sout en peper

Metode
Klits al die sousbestanddele saam vir 5 minute. Kook vinnig en roer gedurig. Wanneer afgekoel en ongeveer 'n halfuur voor bediening, voeg jy 125 ml vars room en 125 ml Mayonnaise by. Meng nou die brood- en kaasblokkies goed. Gooi die sous oor net voor opdiening, laat rus vir 'n minuut of twee en geniet. Beslis die lekkerste slaai ooit!

Ons krap in Koeks van Graan se slaai

Posted in Salads

In vandeesweek se "raak die 'klits' kwyt" het ons weer 'n ietsie vir die gesondheidsbewustes onder ons. Ja nee, ons kan darem nie week-vir-week 'n ietsie lekkers en boonop ook "heerlike" vetmaakgoed vir ons mense voorsit nie. Goeie nuus - ja, a la Tim Noakes - dit is ook 'n Banting-resep - iets wat in die laaste tyd letterlik op almal se lippe is.

Vir hierdie lekker gesonde resep klop ons aan by buurvrou - Koeks van Graan - en sy en haar oogappel Michael - slaan vir ons hierdie gesonde en maklike dis aanmekaar. En net om seker te maak dat die wêreld darem nie net vervelig of gesond is nie, is daar ook twee lekker worsies ("bangers") in jou bordjie.

In Engels heet die resep: "Califlower tabbouleh salad" - 'n tabbouleh is oorpsornklik 'n Arabiese vegetariese dis (soms 'n slaai) wat tradisioneel van tamaties, pietersielie, kruisement en uie gemaak word. Koeks en Michael maak dit so:

Bestanddele
1 (360 g) rou kop blomkool
'n halwe ui - gekap
125 ml gewone pietersielie
125 ml kruisement
125 ml dillekomkommer
125 ml gras-uie
310 ml komkommer fyn gekap
130g tamatie - fyn gerasper
sap van een klein suurlemoen
'n tikkie olyfolie
sout en peper
8 spekworsies (bangers)
375 ml suurroom
vars kruie en speserye om jou dis te garneer

Metode
Was en dreineer jou blomkool. Sny in lekker groterige stukkie en as jy kan plaas in 'n voedselverwerker om dit redelik fyn (maar nie 'n puree) te maak. Gooi uit in 'n mengbak. Plaas ook jou ui, pietersielie, kruisement en gras-uie in die voedselwerker of sny dit alles min of meer dieselde grootte maar taamlik fyn. Voeg by die blomkool en roer by die komkommer, tamaties, suurlemoensap en olyfolie - sout en peper na smaak. Garneer met suurroom voor dit bedien word.

Maak jou spekworsies in 'n tikkie olyfolie in 'n pan gaar en bedien saam met 'n stewige skeppie van die tabbouleh-slaai.

Vir 'n bietjie variasie kan hierdie tabbouleh ook met hoenderborsies of die snit van jou keuse instede van spekworsies bedien word.

Koolgereg:

Posted in Salads

As jy later vandag perdalkies (soos Pieter Pieterse vanmelewe altyd gesê het) by die bekende groentewinkel op die hoek verby ry, moet jy sommer dadelik stop en vir jou die grootste koolkop op die rak gaan uitsoek. Snuffel ook sommer ‘n bietjie verder tussen die rakke rond en kyk watter ander pragtige, “groentegoeters” jy raakloop en wat dalk handig gebruik kan word by die gereg wat ons vandag gaan leer om te “kook” – want Boeta – hier kom ‘n ding!

Een van die interessantste dinge in ons gewilde reeks “kookartikels” is hoe dikwels dood-gewone mense dit regkry om die allerheerlikste disse uit doodgewonde winkelkosste op te dis. “n Mens is werklikwaar nooit te oud om te leer nie en van kosmaak kan geen mens sekerlik ooit genoeg weet nie. (As ‘n mens dink aan die hoeveelheid maaltye wat die gemiddelde huisvroutjie in ‘n gemiddelde leeftyd vir die gemiddelde huishouding moet voorsit, is dit tragies dat sommige mense nie toenemend met kosmaak eksperimenteer of nuwe metodes en style beproef nie.

Elk geval – ‘n lang storie om by die koolkop uit te kom. Pieter Cilliers – ‘n doodgewone man van Rustenburg – wys vandeesweek vir ons hoe om ‘n smaaklik koolgereg met die minimum moeite en koste voor te berei. Pieter (en Sanet) maak dit so:

Bestanddele:
1 medium koolkop; 
1 of 2 groot uie – hang af van jou smaak;
1 of 2 groenrissies
250 g sampioene
1 kg maalvleis;
Sout en peper;
Olyfolie;
Kaas (250 tot 500 ml)
4 eiers;
2 eetlepels masala (opsioneel);

Metode:
Sny helfte van kool op in fyn repies;

Braai opgesnyde kool in olyfolie in ‘n wok of ‘n skottel tot gaar – voeg Masala, sout en peper by na smaak;

Voeg maalvleis by die gebraaide gaar kool en meng goed;

Plaas gemengde kool en maalvleis in ‘n oondbak;

Klits die eiers en gooi dit oor die mengsel;

Plaas in oond en bak tot eiers gaar is teen 180 °C vir nagenoeg 30 minute;

Rasper ‘n dik lag kaas oor die gereg en plaas terug in oond tot die kaas goed gesmelt en heerlik loperig is;

Bedien warm met lekker blatjang, beetslaai of ‘n mengelslaai.

Pieter se Koolgereg is nogal baie soos pasta in die sin dat ‘n mens feitlik enigiets kan bygooi om die gereg te “rek” of dit ‘n ander karakter kleur, of smaak te gee. Groentes soos aartappels, uie, wortels, sampioene is ideaal hiervoor. Net so met die sousie – geniet dit!

 

Biltongslaai & Sjokoladeverrasings

Posted in Salads

Is dit nie vreemd hoe die seisoene (en die reënweer) besig is om truuks op ons te trek nie? Verlede week nog wou ons hier in Rustenburg dood van die hitte en vir weke indien nie maande nie, kon ons nie wag dat die “regte” reën waarvan die Suid-Afrikaanse Weerdiens vroeër gepraat het, moet kom nie…

Noudat party van ons feitlik klaar moed opgegee het dat vanjaar nie ‘n goeie reënjaar gaan wees nie en dat ons dalk nog tot diep in die winter gaan warm kry, is daar skielik ‘n lafenissie in die lug met ‘n ligte buitjie so elke nou en dan.

Dit klink na ‘n lang storie maar dit is eintlik hoe ons by hierdie ligte, “koel” biltongslaai en ‘n sjokoladeverrassing uitgekom het. Nee wat, met die kwik so naby aan die rooi oor die afgelope maande, is die braaivleisvuur nie eintlik ‘n lekker plek nie.

Sanet Goosen van die NG Kerk Proteapark en haar dogter (Lara – 12) span vandeesweek saam en het vir ons hierdie spyskaart saamgestel teen die agtergrond van die versengende hitte van die afgelope klompie maande. Miskien is hierdie naweek net die regte tyd om Sanet en Lara se spyskaart op die proef te stel – hulle maak dit so:

Biltongslaai (4 persone);
Bestanddele
2 koppies biltong;
Blaarslaai;
Klein tamaties (in die helfte gesny);
Feta-kaas;
1 koppie rooi, geel en groen soetrissies (in repies gesny);
1 avokado in skyfies gesny;
‘n handvol croutons;
Groen of swart olywe;
Ina Paarman-slaaisous;
Sout en peper na smaak.

Metode
Breek die slaaiblare in eetbare happies en pak dit op ‘n bord. Pak die skyfies avokado in ‘n mooi formasie bo-op die blaarslaai. Sny die klein tamaties en fetakaas in blokkies en pak dit bo-op die blaarslaai en avokadopeer. Gooi genoeg croutons bo-op.

Afhangende van smaak, gooi genoeg gekerfde biltong bo-op met genoeg slaaisous. ‘n Vinnige gesonde ete vir die gesin op ‘n lekker warm dag.

Lara se sjokoladeverrassing
Bestanddele
Sjokolade-kitspoeding aangemaak en verkoel;
Romany Creams (koekies – gekrummel);
‘n Blikkie kitsroom;
Gerasperde Peppermint Crisp;

Metode
Skep die gekrummelde Romany Creams onder in ‘n wynglas dat dit so ‘n derde van die glas vul. Sodra die sjokolade kitspoeding-gestol het, kan jy dit bo-op die gekrummelde Romany Creams in die wynglas skep – weer eens ‘n derde.
Spuit nou room bo-oor dat die laaste derde van die wynglas gevul word. Rasper van die Pepermint Crisp-skokolade bo-oor en sit ‘n kersie of ‘n mintblaar bo-op vir ‘n bietjie ekstra garnering. Al te heerlik en ‘n lekker happie as die kraaie daar buite gaap.

Adri se somerslaai - nee, nie “Wallabies” nie...

Posted in Salads

Maar ja, dit sal lekker wees as Suid-Afrikaanse rugby eendag weer teen net vyftien man op die veld hoef te speel en nie altyd ‘n ogie op die “ref” ook moet hou nie. Elk geval - nog skaars is die winter verby of die kraaie gaap al weer. Kan jy glo - net verlede naweek waai die winde die wit waks uit ons uit en ‘n dag of twee later styg die kwik tot by 37°C. Daar is werklik geen lente in Suid-Afrika nie.

Daarom dan hierdie week ‘n verrassend-lekker Somerslaai wat ‘n ou Rustenburger Adri Jacobs (Van Vuuren) vir ons maak. Adri is na ‘n baie lang afwesigheid weer terug in Rustenburg nadat sy vir 30 jaar ‘n inwoner van Klerksdorp was. Sy is by uitstek ‘n netbal-afrigter en was onder meer afrigter van die Hoërskole Wesvalia en Goudkop se netbalspanne. In Rustenburg was Adri verlede jaar as “buite-afrigter” by die Hoërskool Rustenburg betrokke en hier het haar span as ligawenners geëindig en daarna na Singapoer getoer waar hulle ook goed van hulself rekenskap gegee het. By laerskole en kleuterskole is Adri gewild as Playball-afrigter...

Adri is die oudste suster van ewe-bekende Rustenburgers Jannaman van Vuuren en Lindie Viviers en sy is getroud met Jakes Jacobs. Maar genoeg van die familie - Adri maak vir ons ‘n maklike, eenvoudige en uiters gesonde somerslaai uit ‘n ietwat rare kombinasie van vrugte en lekkergoed. Op ‘n warm dag is die somerslaai heerlik saam met gebraaide hoender - of as jy dan nou wil - ‘n stukkie gebraaide wors...

Somerslaai-Bestanddele
1 pakkie aarbeie (sny in halwes) 
1 pakkie wit druiwe (sny in halwes)
2 sirkels Feta-kaas (sny in blokkies)
1 klein papaja (sny in blokkies)
1 groot Peanut Snack (breek in stukkies)
2 groot hande vol ROCKET–blare

Metode
Rangskik mooi en dien op in mooi wit bord. Ideaal van hierdie somerslaai is dat jy geen slaaisous nodig het nie – die vrugte maak letterlik sy eie sous.

search our recipes