• Bride of the year competition

Chakalaka – uitsonderlik “hot or not”

Posted in Sauces

Vier weke later en die Rustenburg Herald eindig sy “Seshabo” reseptereeks met nog ‘n welbekende resep van die pap-en-sous familie: Chakalaka. Elke Suid-Afrikaner ken hierdie ene en terwyl party tevrede is met Chakalaka uit ‘n blikkie het ons besluit om hierdie maklike (maar steeds lekker) resep met ons lesers te deel.

Chakalaka is natuurlik een van daardie “seshabo” resepte wat soms bietjie van ‘n byt het en die groenrissie in hierdie resep gee ons Chakalaka presies dit. Party mense geniet iets effens meer “spicy” en sal dus geniet om dalk ‘n paar ekstra rissies in te sit. Aan hierdie mense sê ek: wanneer eet ons! Geniet jou Chakalaka saam met pap en vleis of selfs op ‘n lekker snytjie vars gebakte brood. Die Chakalaka kan ook in die yskas vir ‘n paar dae gestoor word en party mense sal sê sy smaak verbeter eintlik hoe langer hy staan. Rebecca Nhlapo van die Rustenburg Herald het haar Chakalaka-resep met die Rustenburg Herald en sy lesers hierdie week gedeel – ‘n wenresep vir enige braai.

 

Bestanddele:

1 pak groenboontjies, gekap en gekook
4 groot tamaties, in blokkies gesny
1 groot ui, gerasper
1 pakkie rooi-, geel- en groen-soetrissie, in blokkies gesny
2 teelepels matige kerriepoeier
2 groenrissies
1 pakkie Chakalaka-soppoeier
1/2 koppie koue water
2 teelepels olie 

Metode

Verhit die olie in ‘n pan en voeg dan die uie, soetrissie, kerrie, tamatie en groenrissies by. Roerbraai vir ‘n paar minute en voeg dan die groenboontjies by. Meng goed. Voeg dan die water en soppoeier by en kook dan totdat die mengsel effens dik word. Bedien saam met ‘n lekker pap of reis saam met jou gunsteling vleis.

Tamatiesous - die ‘klassieke Seshabo’

Posted in Sauces

Die tradisionele tamatie-en-uiesous is waar die Rustenburg Herald hierdie week sy “Seshabo” reseptereeks weer optel na ‘n kort pouse en dit is hierdie ou legende (amper die “Golden Oldie” van die pap-en-sous familie) wat nou in die kollig is. Die tamatie-en-uiesous is sekerlik die eerste ding waaraan meeste mense dink wanneer daar van pap gepraat word. Dit is ‘n staatmaker by elke braai en min mense sien uit na lekker pape en wors sonder hierdie wonderlike sousie. Hierdie week is dit Rebecca Nhlapo se beurt om haar tamatie-en-uiesous-resep met ons te deel en dit is werklik iets besonders – of dit nou by Saterdag se rugby-braai is of selfs op ‘n weeksaand wanneer die gedagte van droë pap die koppe laat laag hang.  

Bestanddele:

4 groot tamaties, gerasper
1 groot ui, in blokkies gesny
1 pakkie rooi-, geel- en groen-soetrissie, in blokkies gesny
1/4 koppie olie
2 eetlepels Marmite
2 eetlepels bruinsuiker
1/4 koppie tamatiesous
2 eetlepels matige kerriepoeier
1 pakkie bruin uie-soppoeier
1/4 koppie mayonnaise
Sout en peper

Metode:

Verhit die olie in ‘n pan. Voeg die ui, soetrissies, kerriepoeier, bruinsuiker, sout en peper. Kook op die stoof tot sag.
Meng apart die bruin uie-soppoeier, mayonnaise, tamatiesous en 2 eetlepels olie in ‘n bak. Roer totdat dit ‘n pasta vorm.
Meng pasta met ander bestanddele in die pan, verlaag die hitte en laat vir 5 minute kook. Haal van die stoof af en bedien onmiddellik. 

Gee ekstra skop aan enige happie - mangoblatjang!

Posted in Sauces

Net waar 'n mens deesdae ry, sien jy stalletjies met mangoverkopers langs die pad - maak amper nie saak waarheen jy ry nie...
So ja, die mangotyd is in volle swang en benewens die heerlike smaak van vars mangos, is daar 'n "lekkerny" wat 'n mens met mangos maak wat beter is as omtrent enigiets van sy soort - ja, mangoblatjang!
Lana Theron het onlangs vir ons 'n paar botteltjies mangoblatjang gestuur en ons hier het omtrent ons vingers afgelek. Op 'n broodjie, saam met 'n vleisie, pasta, 'n lekker potjie wat wat ook al - daar's nie 'n dis of happie op Moeder Aarde wat nie beter smaak met 'n lepeltjie geurige blatjang nie -
so hoekom nie jou eie maak en jou "kook- of bakkuns" oor die algemeen 'n stewige hupstoot gee nie.
Die kinders (en pa) sal baie bly wees en in die proses sal jy waarskynlik 'n geldjie spaar, om van lekker eet nie te praat nie.

Goed ons weet, die bestanddele gaan jou 'n paar randjies uit die sak jaag, maar glo ons, jy en jou gaste gaan aan jou mangoblatjang smul lank nadat jy reeds 'n nuwe begroting opgestel het.
Lana se mangoblatjang word soos volg gemaak:

My nooi is in... ('n mango...)

Bestanddele:

2½ kg fyngekapte, groen, geskilde mangos. (Maak seker dat mangos mooi skoon gewas, geskil en ontpit is).
2½ kg fyngekapte uie
2 kg (of twee groot 900 g blikke) fyn appelkooskonfyt
5 eetlepels of 75 ml sout
25 ml fyn gemmer of 5 teelepelsvol
2 teelepelsvol (1 rooi middelslag rissie) - fyngekap, pitte verwyder. As jy nie van ‘n brandsmakie hou nie – gebruik dan dieselfde hoeveelheid soetrissies.
1½ bottel bruin asyn – (na smaak en volgens dikte van mengsel)
150 ml of 10 eetlepels mediumsterkte kerriepoeier (na smaak)
1½ (750g) sakkies sagte, klam bruinsuiker – (Muscovado - Woolies) 1 125g in totaal.


Metode:

Meng alles deeglik saam en kook vir minstens 2 ure of langer stadig todat alles sag en gaar is en mengsel taamlik dikkerig is - ‘n stewige tekstuur is ideaal..
Toets vir geur en smaak en bottel in skoongewaste en gesteriliseerde flessies/botteltjies. Laat afkoel en bottel wanneer nog effens warm is -
dit hoef nie glad nie in yskas gebêre te word totdat dit oopgemaak is nie. Hou daarna in yskas.

Oondgedroogte pruimtamaties vir nuwe lewe in vleis...

Posted in Sauces

Vakansietyd is gewoonlik 'n tyd vir nuwe mense - dalk eendag goeie vriende - nuwe vakansieplekke, "nuwe" dorpe en stede en vir die gelukkiges - "nuwe" streke en selfs lande "ontmoet". Vir die al hoe meer mense in Suid-Afrika wat maar oor Desembervakansies met Jan Tuisbly se karretjie ry, strek die "nuwe" ervarings dalk meestal sover as "nuwe" resepte, braaimetodes of dalk 'n nuwe wyntjie of wat. Van al die lekker dinge waaraan ons die afgelope vakansie gesmul het, is daar 'n hele paar wat die moeite werd was om te onthou.

Een hiervan was oondgedroogte pruimtamaties - (plum tomatoes) - dis mos die lekker soeterige tamatie waarmee 'n mens gewoonlik konfyt kook. Dit is al te heerlik om dit in die oond te droog en is veral heerlik saam met 'n lekker braai (soos altyd) of trouens, enigiets wat jy saam met vleis bedien. Hierdie is 'n vreeslike maklike resep hoewel dit nogal heelwat tyd in die oond benodig. Ons het vir Heleen Verster gevra om dié maklike (maar tydrowende) spesialiteit vir ons te maak...

Jy dit maak so:

Halfeer ongeveer 900 g pruimtamaties in die lengte. Plaas dit met gesnyde kante na bo omdat 'n mens gewoonlik 'n knippie sout daaroor wil strooi voordat jy dit in die oond sit. Ons jy wel die sout wil oorstrooi, laat dan dan vir sowat 20 minute rus... Ons het dit met die gladde kant in 'n oondpan gesit en maar die sout eers later oorgestrooi omdat dit soveel mooier vertoon as 'n mens foto's daarvan wil neem soos ons maar in dié reeks doen. Soos reeds gesê, behalwe vir die oondproses wat nogal lank is, is die res so maklik soos val uit 'n boom uit.

Plaas nou jou oondpan met tamaties in die oond, stowe vir omtrent 4 ure teen 120°C - dit moet effens sag en droog maar steeds taamlik sappig wees.
Haal uit die oond, bedruip taamlik goed met geurige olyfolie en besprinkel mildelik met vars tiemie.

Jy kan dit net so bedien of vir latere gebruik bottel - ons het dit vars geëet en was absoluut gek daaroor. Boonop vertoon dit pragtig, kleurvol en geurig as jy dalk die gaste wil beïndruk of 'n spesiale tematafel wil dek...

Rodney se heerlike suurlemoensap – somer se Moses…

Posted in Sauces

Oktobermaand het maar pas begin en ja, dit is reeds 'n uitgemaakte saak dat ons vanjaar weer 'n warm somer gaan hê. As die temperature in Rustenburg nou al in die 35 °C-omgewing boer, moet ons maar weet, Desember gaan ons sweet... En teen die prys van "kruideniers" deesdae is 'n lafenissie teen die middaghitte gewis nie goedkoop nie. Vir liefhebbers van vars vrugtesap, het ons 'n blink idee.

Jy onthou nog daardie heerlike suurlemoenstroop wat in die ou dae so gewild was en wat jou ouma omtrent twee dae geneem het om te maak? Wel, 'n baie soortgelyke resep en metode doen nou weer die ronde en om eerlik te wees, is daar feitlik geen verskil nie. Hier maak jy ook 'n stroop, verkoel in die yskas, en verdun dit met 'n bietjie water om 'n heerlike glas yskoue suurlemoensap te maak.

Hierdie resep kom ook van Rodney MacDonald - seun van Marié en wyle Jimmy MacDonald. Mense wat weet, sal weet dat Rodney 'n slag met kos maak het. Hierdie resep vir 'n lekker suurlemoensap sal jou in die komende somer handig te pas kom en jou nie sakke vol geld kos wanneer die temperature tot by die hoë dertigs of nog erger styg nie. Jy maak hierdie heerlike suurlemoensap soos volg:

Bestanddele

Ongeveer 12 tot 20 suurlemoene - hang af hoeveel sap jy wil maak en hoe groot die vrugte is
2.2 kg suiker
2 teelepeltjies wynsteensuur
2 teelepels Engelse sout
4 teelepels Sitrosoda
6 koppies gekookte water

Metode

Druk die sap van jou gekose hoeveelheid suurlemoene uit. Voeg daarby die gerasperde skil van nagenoeg 6 suurlemoene.
Gooi bogenoemde bymekaar in 'n groot souspan en laat deeglik oplos terwyl jy dit deurlopend liggies roer. Bedek en laat oornag staan.
Gooi die volgende dag die "stroop" deur 'n fynerige sif om die stukkies growwe suurlemoenskil en "onsuiwerhede" te verwyder as jy wil. Party mense slaan hierdie stap oor omdat hulle die suurlemoenskil en "veseltjies" in die suurlemoensap verkies.
Gooi nou jou stroop in glasbottels en verkoel in die yskas tot en met gebruik. Vir 'n lekker soetsuur suurlemoendrankie vul jy omtrent 'n vyfde van jou glas met die stroop en maak dan vol met koue water.

Jy kan dit 'n bietjie roer, hoewel dit eintlik glad nie nodig is nie. Jy sal saamstem dat dit 'n heerlike verfrissende drankie is wat 'n mens vining laat afkoel en waarskynlik goeie medisyne teen volgende jaar se winterverkoues en griep is.
Vir mense wat die suurlemoendrankie so 'n klein bietjie aan die soet kant vind, gooi jy eenvoudig 'n bietjie minder suiker by die mengsel.

search our recipes