‘ n Warm happie vir ‘n wendag op die rugbyveld

Written by Liesl. Posted in Side Dishes

In vandeesweek se uitgawe van “Raak die ‘klits’ kwyt” kuier ons saam met Janine Wille en haar ma Marelize en ons is eintlik werklik spyt dat ons hierdie kook nie reeds in verlede week se uitgawe gereed gehad het nie. Dink net hoe lekker sou Janine en Marelize se “Jalapeno Poppers” afgegaan het saam met die Bokke se kragmeting teen die Wallabies van die afgelope naweek. Die rede hoekom ons só sê is omdat baie mense dié heerlike lekkerny waarskynlik op die proef gaan stel met komende naweek se tweede wedstryd teen die gevreesde All Blacks en behalwe vir die Jalapanos se tintelende brandsmakie, is ons bevrees die Bokke se kanse vir ‘n oorwinning teen Nieu-Seeland sal gewis vir ‘n bitterige smaak in die mond sorg. 

Maar laat daar geen twyfel bestaan oor die vars, krakerige effense brandsmaak van ma en dogter se Japapeno Poppers nie – ons sal dit beslis aanbeveel – of ons nou aan die wen- of verloorkant is.

Jalapeno Poppers

Bestanddele

 

Woolworths gehalfeerde Jalapenos (400g)
200 g Cheddar-kaas, fyn gerasper
125 g Volroom-roomkaas
(Plain full fat cream cheese)
25 ml Koekmeel
Robertson’s traditional braai mix & Sout en peper om die meel te geur
125 ml melk
2l Kookolie vir diepbraai
Sweet chilli-sous

 Metode

 Verwyder die pitte van die Jalapenos. Rasper die cheddar-kaas op die fyn kant, meng die roomkaas met die Cheddar-kaas tot lekker styf. Stop die Jalepenos met die kaasmengsel.

Vul een bakkie met 125 ml koekmeel, geur dit met Robertson’s traditional braai mix, sout en peper na smaak, meng die mengsel goed. Vul ‘n ander bakkie met 125 ml melk. Verhit intussen die kookolie.

Doop die Jalapenos in die melk en dan in die meel, herhaal dit twee keer en braai dan tot mooi bruin.

Spoggerige, smaaklike en gesonde (toe)broodjies

Posted in Side Dishes

As daar nou een gereg is wat ongetwyfeld in die meeste lande ter wêreld ‘n stapelvoedsel is (of minstens dan behoort te wees) is dit die immergewilde “oop- of toebroodjie”. Ons almal weet dat miljoene mense op Moeder Aarde elke dag van meel- en soortgelyke graansoorte vir hul oorlewing afhanklik is. ‘n Mens kan nie help om te wonder hoeveel van hierdie graansoorte uiteindelik in broodvorm op honderdduisende tafels voorgesit word nie…

‘n Mens hoor dikwels die uitdrukking: “As ek elke dag net brood (en darem ‘n ietsie daarby seker?) moet eet, sal jy my nooit hoor kla nie. Die skrywer hier sal hom maklik met dié belydenis vereenselwig. Ai – ‘n lekker broodjie is nou maar eenmaal nie te versmaai nie en val nie net in omtrent almal se smaak nie, maar pas boonop uitstekend by enigeen se sak. En moenie glo nie – brood kan ook ‘n baie gesonde happie wees – of jy nou net “brood” in die middel van jou toebroodjie het of gelukkig genoeg is om ‘n “begin-van-die-maand-toebroodjie” te kan bekostig.

Goed, genoeg gesê – kom ons werp ons brood op die water en vertel vir ons lesers van ‘n broodjie en bypassende vulsels wat so smaaklik, keurig, bekostigbaar en gesond is dat dit enige feestelike geleentheid sal komplimenteer…

Rebecca Nhlapo is ‘n kantoorassistent by ‘n bekende onderneming wat haar sout dubbel-en-dwars werd is. Nie net is Rebecca bekwaam en vriendelik wanneer die baas met sy vuis op die tafel slaan en die onmoontlike verwag nie, maar Rebecca kan ook ewe gemaklik in die kombuis regstaan indien vername gaste/kliënte onverwags opdaag en die etensuur noodgedwonge die enigste ongeskeduleerde tyd op hande is. As mnr Baas dalk ‘n broodjie kan “spaar” sal Rebecca seker maak dat die etensuur-afspraak allermins in ‘n verleentheid eindig…

Kook ‘n klompie eiers vir ongeveer vier minute en plaas dit dadelik daarna in koue water om af te koel. Moenie afdop voordat die eiers goed afgekoel het nie. Sny die eiers in halwes (volgens die lengte) en haal die gele uit. Plaas in ‘n bakkie en maak fyn met ‘n vurk.
Maak ‘n blikkie tuna oop – gooi die vloeistof af en skud uit in ‘n tweede bakkie. Voeg die volgende bestanddele by die bakkie tuna en die bakkie fyngemaakte eiergele: (Onthou – twee keer soveel by die tuna as die by eiergele…)

1 groot teelepel mayonnaise;  
2 groot teelepels “sour cream & chives”-slaaisous;
‘n takkie fyngekapte pietersielie en sout en peper;

Meng ‘n bietjie pietersielie by die eiergele in en strooi die res oor die tunamengsel nadat dit op die broodjies geskep is. Sit ook ‘n bietjie gerasperde kaas by die eiergele nadat dit in die halwe eierwitte teruggeskep is.

Rangskik die volgende op ‘n skinkbord: Enige broodjies van jou keuse – gerooster of vars en gesmeer met die tunamengsel, dan ook halwe eiers, vars slaaiblare, klein tamaties, grasuie, gesnyde komkommer en koue vleis wat met volgraan-mosterd gesmeer is, mooi opgerol is en met ‘n stokkie vasgesteek is. Jou skinkbord met broodjies, halwe eiers en die res soos hierbo lyk nie net watertand-lekker nie – maar smaak absoluut vorentoe! – Dankie Rebecca!

Gevulde botterskorsies oor die kole

Posted in Side Dishes

In ons weeklikse kookrubriek het ons dit al een- of tweemaal “reggekry” om sommer ‘n “reeks” kookartikels by ons gashere te kry – deels omdat die verskeidenheid resepte/disse wat vir die dag voorgesit is so voortreflik en uiteenlopend was dat ‘n mens voel jy sal daaraan afbreuk doen deur dit as ‘n gekombineerde “buffet” wil ‘n mens amper sê – aan te bied.

Andersins omdat ‘n mens soms so absoluut behaaglik kuier en geniet waarop jy getrakteer word, dat jy die oomblik en sy herinneringe behoorlik wil koester en soos die gonswoord deesdae lui: “toegevoegde waarde” uit die geleentheid wil put.

‘n Onlangse kuiertjie by Biki-bini-bos - die gasteplaas van bekende Rustenburgers Piet en Martie Els en hul “kroos” Giselle en Carl Nicholson ‘n hanetreetjie buite die stad, het ons kookspan gou laat besef dat hierdie “kook” nie in een aanbieding moontlik is nie. Nee, daarvoor was die gasvryheid te hartlik, die geselskap te verkwiklik, die wintervuurtjie te snoesig en die spyskaart… Ja, soos ons reeds gesê het – die spyskaart kom in drie aflewerings oor die volgende paar weke en Rustenburgers wat toegewyde “volgelinge” van hierdie rubriek is, sal wys wees om ‘n spesiale lêertjie vir hierdie reeksie te maak…

Eerste aan die beurt is Martie se heerlike gevulde botterskorsie-resep en ja, moet dit dan altyd op ‘n plaas of in die natuur wees dat ‘n mens besef watter wonderlike verrassings daar in eenvoud wag? Martie se skoonseun (Carl) is veral lief vir hierdie spesiale weergawe van “bottersoet-pampoen”. Martie maak dit so:

Bestanddele
1 of 2 of meer botterskorsies – na gelang van die hoeveelheid gaste aan jou tafel; 
Vars of gedroogte pietersielie;
Gekrummelde Feta-kaas;
Bruin uiesoppoeier;
Rooi uie in ringe gesny;
Botter.

Metode
Halfeer jou botterskorsies in die lengte. Skep die pitte uit. Strooi jou bruin uiesoppoeier oor die botterskorsies en vul dit met bogenoemde bestanddele. Plaas klontjies botter bo-op, draai toe in foelie en bak oor die kole tot heerlik sag.

Hierdie is een van daardie resepte waarmee ‘n mens ‘n bietjie kan eksperimenteer. Jy kan die botterskorsie vul met bykans enigiets waarvan die gesin of jou gaste baie hou en dit kan sommer as ‘n pragtige oggendhappie vir jou gaste of ‘n smaaklike voorgereg vir nog ‘n groter maaltyd dien.

Maar moenie skaam wees met die porsies nie – jou gaste sal aangenaam verras wees en dit is onwaarskynlik dat een kleinerige porsie per gas genoeg sal wees. Boonop is dit so eenvoudig dat enige pampoenkop dit kan maak.

In ons volgende aflewering van “Raak die ‘klits’ kwyt” wys Carl Nicholson vir ons hoe om ‘n fantastiese wildsfillet in room en sampioensous oor die oop vuur te maak – moenie dit misloop nie! Dankie Martie!

Switserse Spek en Sampioenontbyt

Posted in Side Dishes

Nouja, na ‘n hele paar weke se heerlike kuier op die plaas, is ons vandeesweek met alle mag en mening terug in die stad. En ja, ‘n mens kan dit seker ‘n betonoerwoud noem as jy wil, hoewel baie nie sal saamstem dat Rustenburg regtig vir hierdie effe kwetsende beskrywing kwalifiseer nie.

Nee, “betonoerwoud” laat ‘n mens liewers dink aan plekke soos “Bobbejaansberg” hier anderkant die bult en nou hoop ons dat mense van daardie rantjies nie aanstoot neem nie. In elk geval, Rustenburgers is mos lief om te sê dat die hoë stadspoorte en besige snelweë nie daarin kon slaag om dié mooi dorpie met die pragtige bome van sy plattelandse atmosfeer te ontroof nie…

Maar terwyl ons plattelands verkeer beweeg ons terselfdertyd in ‘n kontinentale rigting met ‘n ontbythappie wat veral deur die Switsers gewild gemaak is. Ons sit aan tafel by Wiesenhof Rustenburg (by die “rooi boom” op die hoek van Beyers Naudé- en Brinkstraat) waar Chris en Petronella Vosloo en die Wiesenhofspan ons op ‘n Switserse Spek en Sampoenontbyt trakteer terwyl ons die “berugte” Wiesenhofkoffies een-na-die-ander afsluk.

Man, dit smaak vorentoe en is net die regte plek om vir ‘n vinnige maar smaaklike ontbyt in te loer voordat die rugby afskop. Ja, daar is kwalik ‘n beter dag as sommer nou eerskomende Saterdag wanneer die Bokke gaan probeer om teen Fiji beter te vaar – moet dit nie misloop nie – hierdie is ‘n wonderlike alternatief vir die tradisionele spek en eiers-ontbyt.

Bestanddele
40 g spek in blokkies gesny; 
2 snye brood;
40 g mozzarellakaas;
100 g gesnyde sampioene;
10 ml room
25 ml melk.

Metode
Jy maak eers ‘n Fransie roosterbroodjie: Klits eiers en melk saam tot dit goed gemeng is. Doop die snye brood mildelik in die eiermengsel en braai in ‘n pan met 10 ml botter tot mooi goudbruin aan beide kante, plaas eenkant.

Vulsel
Braai die spek en sampioene in dieselfde pan, geur na smaak met sout en peper. Voeg die kaas en room by die sampioene. Skep nou die vulsel op die Franse roosterbroodjie(s) en plaas die tweede sny bo-op. Sny deur en bedien warm. Hierdie is ook die ideale manier om vir man- of vroulief met ‘n heerlike ontbyt in die bed of by die ontbyttafel te bederf – enige kind met ‘n bietjie verbeelding kan dit maklik opdis en voorsit.

By Wiesenhof word dié heerlike ete gewoonlik met skyfies bedien en sal jou minder as R50 uit die sak jaag. Dan het jy maklik nog ‘n geldjie vir ‘n lekker koffie of cappuccino en ‘n fooitjie vir jou vriendelike kelner. Dankie Chris en Wiesenhofspan – lekker atmosfeer en pragtige plek – beslis ‘n besoek werd!

Boskos op sy beste – Kiep en Paula se bosgeheime

Posted in Side Dishes

Wie van ons hou nie daarvan om die karavaan of die 4x4 (en) die tent te pak en die bos in te vaar nie? Vir loshande seker die meeste Suid-Afrikaners bly die “bos” maar ‘n idilliese plek waarvan ons droom maande voor daar gepak moet word of waaroor ons heimwee het selfs jare nadat jy jou gunstelingplek se stof van jou stapstewels geskop het… En dan is dit maar weer terug kantoor toe…

Vir sommiges egter, hou die droom ‘n bietjie langer. Twee Rustenburgers wat hulle onder hierdie gelukkiges bevind, is die baie bekende Kiep en Paula le Grangé van Bundu (Safaris) & Outdoor. Kiep is vir jare reeds bekend as toerleier van opwindende safaris na eksotiese Afrikabestemmings soos Botswana en Namibië en gaste wat al saam met die Le Grangés om ‘n laatnagvuur gesit het, getuig sommer maklik dat hulle hul wortels onder ‘n groot ou Kremetartboom êrens in suidelike Afrika gevind het...
Maar terug na die kookpotte, ja, uiteraard is Kiep en Paula ook bekend vir die heerlike boskos-etes waarop hulle toeriste in die veld trakteer. Maar nee, ons gaan nie vandag vir Rustenburgers vertel hoe om ‘n hoofgereg soos ‘n vleissnit of dergliks in die veld voor te berei nie – dit doen ons volgende week.

Nee, vra maar die dames - die kuns lê in die bykosse en die La Grangés deel hier ‘n paar eenvoudige, maklike resepte wat “ma” ewe maklik in die veld kan maak.

Paula se Warm Aspersiegereg:
Bestanddele 
2 blikkies groen aspersies;
2 blikkies Franse snit groenbone – dreineer albei hierbo deeglik;
1x 250ml langlewe-room;
Aromat – LW – geen sout!

Metode
Nadat bone gedreineer is, hou die pot skuins en absorbeer ALLE vloeistof met handdoekpapier. Voeg aspersies en room by. Geur met Aromat en indien jy wil, ‘n draaitjie growwe swartpeper. Verhit tot goed warm en geniet. Hierdie is heerlik met braaivleis en kan ook as ‘n sousie oor ‘n sagte fillet gebruik word…

Beet- en peerslaai:
Bestanddele
2 boksies Werda gerasperde beet;
1 blikkie 410g pere;
Goeie, romerige Mayonnaise;

Metode
Dreineer beet baie goed;
Gebruik handdoekrolpapier – hou pot skuins en absorbeer alle vloeistof;
Sny pere in. Meng ‘n goeie skeut Mayonnaise in en bedien.

Soos ‘n mens maar doen, het ons hier beslis die lekkerste vir laaste gelos. Paula se “Alles-wat-oorbly-poeding” laat regtig die mond water - wag maar tot ons weer in die veld is!

“Bestanddele”
Romany Creams;
Boudior beskuitjies;
Nutty Crust;
Gemmerkoekies ens;
Ultramel vla;
Langlewe-room;
Kersies (“cherries”)
Marshmallows; (Malvalek… toe maar, los dit maar….)
Sjokoladeblokkies – gewone “tjoklits” werk ook goed…
Perskes, pere en koejawel in blikkies is opsioneel;

Metode
Gooi alles in ‘n pan en bedek met foelie. (‘n Swartpot met deksel werk beter, andersins is die pan goed). Plaas op rooster. Skep ‘n paar kooltjies op die foelie/deksel. Laat “prut” vir 10 tot 15 minute en bedien warm – die lekkerste lekker in die veld!

Aanstaande week wys Kiep vir ons hoe om sy berugte fillet in die veld gaar te maak en dit met lekker aartappeltjies en ‘n sousie af te rond – moet dit nie misloop nie!

Onthou mense – jy hoef nie ‘n fundi te wees om vir ons te wys wat jy in die kombuis (of by die braairooster) kan doen nie. Neem die vrymoedigheid en skakel Waldie Volschenk gerus by 014 592-8329.

search our recipes