Tags: Rustenburg, Herald, recipes cooking pasta

Dié kêrels kook vir tv, en vir ons

Written by Liesl. Posted in Pasta Recipes

‘n Fout. ‘n Groot fout; dis wat dit is om ‘n sjef te vra om ‘n gereg voor te berei met bestanddele wat almal in hul koskaste het. Want wat ‘n sjef in sy kombuis se rakke het, en wat die gewone sterfling in sy kaste het is twee baie verskillende goed. Maar dié week het sjef Pieter Germishuys sekerlik ‘n wonder verrig! Die gereg wat hy saam met sy Afloskombuis-trawante – Tiaan Visser en Marnus van Dyk - geskep het, kom baie naby aan maklik genoeg dat meeste mense dit sal kan maak.Dié heerlike gereg het Pieter, Tiaan en Marnus met ‘n picante voorgereg, bestaande uit papierdun salami, radys, wortel en geroosterde mango, asook ‘n kraakvars mengelslaai bedien. Hier is die resep vir dié kêrels wat kan kook se Tagliatelle met ‘n romerige knoffel, sampioen, Peppadew en aspersiesous, afgerond met bros uie en parmesaankaas.

Bestanddele:

250g Tagliatelle pasta
2 x Uie, fyngekap
3 x Knoffelhuisies, fyngekap
200g Botter of Margarien
200g Koekmeel
500 - 750 ml Melk
200g Sampioene, grofgekap of in ringe gesny
10 x Peppadews, grofgekap
10 x skyfies Salami, in repe gesny
200ml vars Room
150g vars Aspersies, vinnig opgekook in kookwater met sout tot Al denté
Parmesaankaas
Growwe Sout en Growwe Peper vir smaak
Vars Kruie en Uie Sprinkel bo-op

Metode:

1. Verhit jou botter op lae na medium hitte in ‘n groot pan of pot. Voeg die uie, knoffel en sampioene by. Braai tot effens sag. Sprinkel dan die meel oor en meng goed deur. Begin die melk bietjie vir bietjie byvoeg. Soos die meel die melk gaan absorbeer, so sal die sous dikker word. Hou net die plaat op medium hitte..die sous moet nie kook nie.
2. Intussen kan jy solank ‘n pot met water en sout tot kookpunt bring en dan jou aspersies vinnig daarin blansjeer of kook tot Al denté (sag, maar nogsteeds ferm) . Verwyder die aspersies...jy kan sommer die water hou en in dieselfde water jou tagliatelle paste opkook, ook tot sag, maar ferm..Dit neem ongeveer so 15 min. As jou pasta sag is, gebruik ‘n vergiettes (“strainer”) en dreineer. Hou eenkant.
3. As jou sous begin dik word, voeg dan die peppadews en salami by en meng goed. Voeg nou die aspersies en room by en geur met sout en peper.
4. Rasper ‘n klein bietjie parmesaankaas in die sous in.
5. Voeg die pasta by die sous. Meng deur met ‘n tang of 2 lepels.
6. Plaas op bord, sprinkel “Crispy” uie bo-oor, Parmesaan splinters of linte bo-op en garneer met vars Basiliekruid of mikro-blare.
Genoeg vir vier mense.

Heleen se vinnige “Pastitsio”

Written by Liesl. Posted in Pasta Recipes

Nou ja, vir die Italianers hoef jy niks van pasta of ‘n “pastatjie” te vertel nie – nooit nie!
Maar natuurlik van oordadigheid ook nie..?

Hier in Rustenburg waar ons nou gevaarlik naby aan die einde van Januarie trek, moet almal seker (hopelik ander ook?) na regte randrekker-geregte op soek wees waarmee die gesin aan die gang gehou kan word totdat die spreekwoordelike maandeinde-spook darem weer loop.

(Kollega Christelle sê die maand is so lank – verlede jaar hierdie tyd was dit al Maart!)
Maar terug na die pastatjie – die Italianers het ‘n pastatjie wat hulle “Pastitsio” noem.
Om dit behoorlik te doen is ‘n taamlike mondvol – maar hier einde Januarie maak ons Heleen Verster se vinnige weergawe van Pastitsio – lekker vinnig, nie duur nie en uiters “effektief”!
Boonop so maklik soos val uit ‘n boom uit…

Bestanddele vir “Pastitsio”:

1 pakkie “Three Cheese Mince Mate”
1 pakkie aanmaak-kaassous
gerasperde kaas
250 ml ongegeurde joghurt

Bestanddele vir slaai:

1 kop blomkool
1 kop broccoli
Groot bottel (wat deeglik seel)
Vinagrette Griekse slaaisous
Metode:

Verhit die oond tot 180°C.
Neem ‘n pakkie “Three Cheese Mince Mate” en volg die voorbereiding-aanwysings. Neem een pakkie aanmaak-kaassous en maak sousie volgens aanwysings.
Meng nou die kaassous met 250 ml ongegeurde joghurt. Skep die “mince mate” in ‘n oondvaste bak. Gooi die gemengde kaassous en joghurt bo-oor. Strooi gerasperde kaas en bak in die oond tot die kaas gesmelt is.
Die “Pastitsio” bedien jy met ‘n slaai van jou keuse.

Heleen se keuse is blomkool en broccoli.

Jy maak dit so:

Neem stukkies blomkool en broccoli en was goed. Plaas kool en broccoli in bottel wat deeglik seel. Gooi ‘n botteltjie Vinagrette Griekse slaaisous oor en laat staan vir 24 uur. Maak seker die sousie bedek die kool en broccoli en draai bottel gereeld om sodat dit deeglik deurtrek.
Hierdie slaai is ook al te heerlik met braaivleis of op ‘n kaasbord.

Stella en Chris se Spek en Hoender Pastagereg

Written by Liesl. Posted in Pasta Recipes

Die vakansie is verbei en dit is tyd om die nuwe jaar te begin. ‘n Nuwe jaar vol uitdagings en ook geleenthede. Veral wanneer dit kom by besonderse kos maak en uit die boks dink. 
Soos byvoorbeeld om hoender en spek te meng saam met pasta om ‘n heerlike vinnige gereg vir die hele gesin te maak.
Stella en Chris van Rhyn van die Rustenburg Herald het hierdie week presies hierdie gereg vir die Herald voorbery – ‘n smaaklike ete om die jaar van 2018 af te skop. 
Hierdie resep is ‘n wenner veral wanneer hy vir ‘n paar uur of selfs oornag in die yskas gestaan het. 
En, gegewe die hitte, kan ons almal doen met ‘n bietjie kouer kos! 

Spek en Hoender Pastagereg

Bestanddele:

2 uie, gekap
1 pakkie rooi-, geel- en groen-soetrissie, gekap
250g sampioene, opgesny
500g spek, gesnipper
500g hoenderborsies, speserye van eie keuse op
500g pasta (van eie keuse)
125ml ertjies, gaar
125ml mielies, gaar

Sous

Ongeveer 300ml mayonnaise
125ml blatjang
80ml heuning
10ml matige kerriepoeier
10ml droë of vars pietersielie
50ml suurlemoensap/asyn
25ml droë mostertpoeier
25ml suiker
Sout en peper na smaak 

Metode

Rooster hoenderborsies tot gaar en sny in repies. Roerbraai die uie, soetrissie, sampioene tot sag en gaar. Roerbraai die spek tot bros en kook die pasta tot gaar en dreineer. 
Laat pasta effe afkoel. Meng al die bestanddele van die sous bymekaar en voeg dit saam met die pasta en die res van die bestanddele in ‘n groot bak. 
Meng goed en geniet. Die hoenderborsies kan ook met steak of fillet repies vervang word.

Alfredo a la Juanita

Posted in Pasta Recipes

Ja kyk, die winter kom vinnig nader en dit is sekerlik hoog tyd dat Rustenburgers hulself ‘n bietjie instudeer soos die mense sê in die maak van eg Italiaanse of sommer net “Suid-Afrikaanse” pasta as jy nie vol eksotiese vieterjasies is nie.

Maar laat ons eers verduidelik hoe ons by hierdie “kook” uitgekom het. Skoonsus vertel van ‘n bekende (en mooie) dame in Rustenburgse skoonheidskringe – iemand wat in hare spesialiseer. Juanita du Plessis (nie, nie daai een nie…) is nie net tweetalig nie, maar ook “tweehandig”. Met ander woorde – sy het twee “regterhande”, of nee, ons bedoel twee “linkerhande”, of nee, ag toemaar, los dit maar…

Wat ons eintlik probeer sê is dat sy ewe bedrewe met die haardroeër en borsel in albei hande is, of in enige van die twee hande is… of, ag nee, hier gaan ons al weer... Met die gevolg dat sy albei kante van die kop kan blaas, borsel, kam en krul terwyl sy voor en agter jou staan of as jy dan nou wil, dat sy die voor en agterkant van die kop kan blaas, kam en krul terwyl sy links of regs van jou staan. Ja, dit is omtrent raak opgesom (sjoe, hyg……)

Elk geval, dit het vir skoonsus laat wonder hoe bedrewe Juanita dalk agter ‘n oond/stoof kan wees as sy hier in die salon so kan raakvat. Ons het ons nie twee keer laat nooi nie en kuier vandag in Juanita se kombuis terwyl sy en haar twee oulike meisiekinders vir ons Alfredo (‘n eg Italiaanse pastagereg) maak.

Uiteindelik het ons so lekker met die meisiekinders, die kat en die vet varkie in die erf agter die plaashuis gesels en gespeel dat ons skoon vergeet het om vir Juanita dop te hou om te sien hoeveel keer sy met die linker- of die regterhand in die kastrolle woeker. Maar ja, die pasta smaak vorentoe met of sonder ‘n broodjie en Juanita sê sy het ook ‘n einde-van-die-maand-weergawe (nee, nie net die broodjie nie…)

Bestanddele
400g Tagliatelle (pasta)
500g ham;
1 pak sampioene
1 eetlepel olyfolie;
500ml room;
4 eetlepels koekmeel;
4 eetlepels Parmasaan en –pestospeserye;
4 country, garlic en herb-speserye;
Aromat na smaak;
Parmasaankaas;

Metode
Kook Tagliatelle tot gaar. Sny die ham in blokkies en braai in pot met olyfolie. Sny sampioene kleiner en voeg by die ham. Strooi 2 eetlepels van elke spesery oor en braai saam.

Sous
Gooi room in ‘n pot, voeg Aromat, botter en die res van die speserye by na smaak. Prut tot botter begin smelt en klits dan gelydelik koekmeel by tot dit begin verdik. Voeg ham en sampioene by en roer saam. Skep pasta in en skep die sous ruimskoots bo-oor. Strooi ‘n skeppie Parmasaankaas bo-oor en geniet!

Romerige hoender & spinasiepasta

Posted in Pasta Recipes

In verlede week se uitgawe van Raak die klits kwyt het ons ietwat uitgebrei oor geregte soos Pizza wat tipies Italiaans is en in slegs ‘n paar jaar – veral na die Italiaanse diaspora tot ‘n Amerikaanse en daarna, internasionale gunstelinggereg ontwikkel het. Daar is min mense wat vandag nie van pizza hou nie en elke tweede persoon het boonop sy eie weergawe ontwikkel.

Nog ‘n Italiaanse gereg wat wêreldwyd gewild en suksesvol aangebied word, is pasta. Daar is letterlik nie ‘n einde aan die verskeidenheid pastas wat elke dag regoor die wêreld voorgesit word nie en dit is seker die gereg wat by uitstek vir sy gesondheidsvoordele bekend geword het. Hoewel die winter nou seker amptelik iets van die verlede is, is daar geen rede hoekom pasta nie regdeur die jaar gemaak kan word nie. Wie gee in elk geval om as jy ‘n pasta-mens is?

Vandeesweek sit ons by Chantal Oosthuizen en Chere-lee Beukes aan vir ‘n lekker romerige hoender & spinasiepasta wat die monde behoorlik laat water. Jy maak dit soos volg:

Bestanddele
550 – 600g hoenderfillette; 
15 – 20ml olyfolie;
40ml Robertson’s hoenderspeserye;
5ml origanum;
5ml tiemie;

Metode
Sny hoender in kleinerige blokkies. Braai in ‘n warm pan in die olie tot dit lekker geseël is. Voeg hoenderpeserye asook ander speserye by. Verlaag die hitte sodat dit stadig gaar word. ‘n Bietjie water kan bygevoeg word sodat dit nie heeltmeal droog kook nie.

Roomspinasie
Bestanddele
1 medium ui;
10ml olyfolie;
1 pakkie gewaste vars spinasie;
250ml room;
2 eetlepels Maizena;
Knippie sout;
Growwe swartpeper;

Metode
Braai uie tot sag in olyfolie. Gooi ‘n klein bietjie water in die pot sodat die bodem bedek is. Voeg spinasie en knippie sout by en stoom spinasie tot sag oor medium hitte. Nie te veel sout nie want die hoender het reeds sout by. Voet room by. Laat oor lae hitte prut. Voeg Maizena by, meng goed sodat die spinasie lekker kan verdik. Geur met growwe peper.

Pasta
Gebruik 250g Penne Rigate pasta. Elkeen maak mos maar sy pasta op sy eie manier. Spoel voor of na die tyd – net solank dit sag en gaar is.

Opdiening
Pak pasta onder ‘n lagie. Skep roomspinasie bo-oor die pasta. Plaas hoenderfillette bo-op die roomspinasie. Dit kan ook voor die tye gemeng word. Geur met growwe swartpeper en Parmesaankaas net voor jy bedien. Bon appétit!

search our recipes