Ou enjins doen die praatwerk by antieke enjindag

Posted in Home

BONUS - RUSTENBURG - Human Jordaan van die Paul Kruger Gastehuis op die R24 bied op Saterdag, 19 Februarie, weer sy jaarlikse antieke enjindag aan wat deur menige ou enjingeesdriftiges en veral die Willem Prinsloo Landboumuseum in Pretoria ondersteun word.

“Enjinmaters” kom van heinde en verre met hulle trots in die vorm van ou enjins wat meestal uit skrootwerwe “gered” en pynlik netjies gerestoureer is. Dit is vir die besoeker ‘n nostalgiese gesig om baie van hierdie ou masjinerie “te onthou” en te sien met watter toewyding hierdie manne hul stokperdjie benader. Dit is ook bemoedigend om te sien hoe die pragtig die ou “ysters” uit toeka se dae vandag nog gewillig hul “werk” doen.
Soos gewoonlik sal daar heerlike verversings en drinkgoedjies te koop aangebied word as die Februarieson ‘n bietjie warm word en vir diegene met ‘n groter aptyt is daar ook ‘n restaurant waar formele etes bedien word.
Die enjins word vanaf 08:30 aan die brand gedraai en teen 14:00 is dit tyd om op te pak en huiswaarts te keer. Die jaarlikse antieke enjindag is ‘n moet vir almal wat in tye van ouds en ou artikels belangstel. Toegang is heeltemal gratis - kom herleef Suid-Afrika se pioniersdae en kuier oor ‘n glasie met die enjinmanne en hul masjiene. Onthou - die Paul Kruger Gastehuis op die R24 sowat 6 km vanaf Rustenburg.