Teater op die TV

Written by KlerksdorpRecord. Posted in entertainment

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp – Teaterliefhebbers kry ‘n groot Kersgekenk.

Vier van die KKNK se vlagskip dramas is in Desember en Januarie op VIA, DStv-kanaal 147, te sien. Hierdie vier teaterstukke wat onlangs op film vasgevang is, sluit drie Suid-Afrikaanse werke en ’n vertaalde Vlaamse teks in: Rachelle Greeff se ikoniese Die Naaimasjien, Philip Rademeyer se Opdrifsel, Tom Lanoye se Koningin Lear (vertaal deur Antjie Krog) en Reza de Wet se Asem (vertaal deur Marthinus Basson). 

  • Die Naaimasjien met Sandra Prinsloo is op 25 Desember om 20:00 te sien, met geen heruitsendings.
  • Asem: 26 Desember 21:00, met heruitsendings op 3 Januarie 21:00 en 6 Januarie 21:00.
  • Koningin Lear: 1 Januarie 21:00, met heruitsendings op 5 Januarie 21:00 en 8 Januarie 21:00.
  • Opdrifsel: 2 Januarie 21:00, met heruitsendings op 4 Januarie 21:00 en 7 Januarie 21:00.

Die Naaimasjien: Magdaleen sit in haar ouetehuiskamer. Sy is besig om elke deeltjie van haar naaimasjien skoon te maak, want die vrou op die foon het gesê sy’s drie uur vanmiddag hier om dit op te tel. Terwyl sy hierdie konstante metgesel van die afgelope 55 jaar netjies blink vryf, gaan haar gedagtes na haar man en kinders, die dae toe haar pa nog koning was op sy eie plaas, na die onskuld van ’n tyd wat nie meer bestaan nie, wat dalk nooit bestaan het nie. Want sien, oumense is nie dom nie; hulle slim sit in die voering van ’n ander tyd. Met deernis en humor vat Magdaleen jou terug na ’n tyd van melkaflewerings, sykouse met nate, moerkoffie en melkskeiers. En sy herinner jou aan hoe ’n ma – soos ’n baboeshka-poppie – binne in elkeen van haar kinders staan.

Opdrifsel: Wat doen twee ouers ná die verlies van hul enigste kind? Mara en Bernard verloor hul tienerseun, Dylan, en daarmee saam hul idee van ’n familie, van normaal, van “ons”. Hulle rou op verskillende maniere en sukkel om mekaar te verstaan en te ondersteun. Hulle het baie vrae, maar geen antwoorde nie. Daar is verwyte, woede, hartseer, beskuldigings en toe deure. Daar is die eerste Kersfees sonder Dylan, die eerste herdenking van sy dood, hul vriende wat nie weet wat om te sê nie. Ten einde is Opdrifsel ’n verhaal oor twee mense wat hulself én mekaar in die donker gat van rou verloor, en weer moet vind.

Koningin Lear is ’n herverbeelding van William Shakespeare se King Lear, deur die gevierde Vlaamse skrywer Tom Lanoye. Elizabeth Lear het met die verloop van tyd haar klein besigheid tot ’n internasionale sakeryk opgebou. Elizabeth kondig aan dat die besigheid tussen haar drie seuns verdeel sal word en sy eis dat haar seuns onder eed hul liefde en trou aan haar verklaar. Haar jongste en geliefde seun weier en dit ontketen ’n familietwis van reuse-omvang. Dit is ’n verhaal van ’n bejaarde besigheidsvrou wat haar houvas op die werklikheid verloor, wat desperaat probeer om die storm wat om haar losgebars het te hanteer.

Asem: Een donker, stormagtige aand gedurende die laaste bitter dae van die Suid-Afrikaanse oorlog, in ’n uitgebrande skuur van ’n plaas, lê ’n gewonde Boeregeneraal wat deur Anna, ’n kruiedokter van uitsonderlike magte versorg moet word. Haar aantreklike, maar bloedlose dogter, Annie, is ook besig om te veg vir haar lewe, maar het veel meer as haar ma se konkoksies nodig. Die generaal se dapper en getroue adjudant, gebrei deur die slagveld en die afgryse van oorlog, staan nou voor ’n verskriklike keuse en ’n nuwe onnoembare gevaar. In ’n wêreld waar mans, in die naam van patriotisme lewens en landskappe vernietig, moet vroue meer subtiele en misterieuse metodes ontwikkel om te oorleef. De Wet verweef digterlik en kragtig ’n verhaal van liefde in ’n tyd van vernietiging, wat die alledaagse omskep in die uitsonderlike.

UA-34805051-1 UA-34805051-1