Superkoel Oskin-Lee kry ’n filmrol

Posted in Latest News

Deur Salomé Kotzé

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Sy gunsteling akteur is die blou kat in die Amazing World of Gumballs. En hy hou van lê en chill en eet. Voor die tv natuurlik.

Een van die dae is klein Oskin-Lee Chatwind self op televisie, want hy is gekies om in ‘n kortfilm te speel wat gedurende die kort skoolvakansie in Kaapstad verfilm word. Die film het ‘n rugbytema en hy sal die jongste van vyf broers speel. Meer weet hy nie van die film nie.

Oskin-lee se oë blink bo die masker. Hy is ‘n gr R tjokkertjie in Laerskool Goudkop, hy hou van rugby, en om saam met sy ouer sussie Tik-tok video’s te maak. Dit is hoeka hoe die klein hartebreker raakgesien is, lag sy ma. Angelique skud net haar kop.

“Dit was so uit die bloute, ons het dit glad nie verwag nie en ek moes eers uitvind of die vervaardigers nie dalk scammers is nie. Homebrew Films het ons gekontak en ek wou eers uitvind of dit legit is, ons is egter gou verseker hierdie mense weet wat hulle doen,’’ gesels sy.

Nou sien die familie uit na ‘n lekker gesinsvakansie, sodat boetie een dag aan die begin van die vakansie en een dag aan die einde van die vakansie op stel moet wees. Hulle ry en Oskin-lee praat van ‘n roadtrip sodat hy vir sy pa, Oskin, die Kaap kan wys. Dié 6-jarige het ‘n lewendige belangstelling in die land se geskiedenis en as hy eendag president is, “sal ek soos Nelson Mandela wees’’.
Angelique is opgewonde oor die geleentheid en het albei haar kinders nou by ‘n Johannesburgse talentagentskap geregistreer. Haar oudste dogter Leshané van der Berg, is reeds gekies om aan ‘n aanlyn tutor program deel te neem wat haar ook dalk op die kassie kan laat beland.

“Kyk, hy doen alles wat sy ousus doen en kan ‘n regte babbelbek wees. So ons sal maar sien waarheen lei hierdie ons,’’ sê sy.

Oskin-Lee sê hy wil dalk ‘n akteur word en ook in “Bindelanders’’ speel. Maar eintlik wil hy president word.

“Ek weet wie was die eerste president van Suid-Afrika,’’ sê hy. En antwoord sommer self. “Charles Robberts Swart.’’ Angelique rol haar oë en raadpleeg Google op haar selfoon. “Jip, hy is reg. CR Swart. Die kind leer sy ma nog geskiedenis,’’ lag sy terwyl Oskin-Lee haar aanjaag.

“Ek wil gaan lê en chill en eet...” en natuurlik televisie kyk.

UA-34805051-1 UA-34805051-1