Seun se val nog 'n raaisel

Posted in Latest News

Deur Salomé Kotzé

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Dit bly ‘n raaisel wat gebeur het dat Christiaan Emdin ‘n paar verdiepings ver by sy skool geval het.

Sy pa, Henry, het gesê mense wat vingers na die skool wys oor sy seun na bewering daar geboelie is, weet nie waarvan hulle praat nie. “Die skool is nie skuldig nie. Ek kan nie sleg praat van die skool nie. KHS is ‘n goeie skool en ek is baie dankbaar vir die ondersteuning wat ek van daar kry,’’ het hy gesê.

Leon Bevan van KHS het gesê die skool is net so geskok na die voorval vroeër in September toe Christiaan geval het. “Daar was geen ooggetuies nie en al wie weet wat gebeur het is die seun self. Ons ondersteun die familie waar ons kan en is dankbaar dat dit beter gaan met hom.’’

Oor gerugte op sosiale media en spesifiek op die ondersteuningsblad wat vir Christiaan op Facebook gestig is, wou Bevan nie uitbrei nie. “Ek kan nie daarop kommentaar lewer nie. Van die bewerings wat daarop gemaak is, wil lyk na kwaadstokery. Ons het ‘n oop-beleid by die skool oor ‘n geboeliery en hanteer probleme soos ons daarvan bewus word,’’ het hy gesê.

Christiaan is verlede week uit die hospitaal ontslaan en sterk by sy ouerhuis op Stilfontein aan. “Dit gaan goed met hom. Ons wil graag dankie sê vir almal vir hul gebede en die ondersteuning wat ons ontvang,’’ het sy pa gesê. Die gesin het ook donasies ontvang vir mediese rekeninge en onkostes en Henry het gesê daar word deeglik boekgehou daarvan. Hy het ook gesê hy glo nie Christiaan sal die jaar terugkeer skooltoe nie.

“Dis ‘n raaisel wat gebeur het. Hy praat nie. Ek dink dis net hy en God wat weet wat daardie dag gebeur het. Kinders kry mos maar snaakse giere,’’ het Henry gesê.

UA-34805051-1 UA-34805051-1