Skoolseun amper in woonbuurt gegryp

Posted in Latest News

Deur Danie Jacobs

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Matriekseun ontvang berading na ‘n noue ontkoming verlede week waar hy na bewering uit ontvoerders se kloue ontsnap het.

Dié voorval in Jasmynstraat, La Hoff het sosiale media aan die brand gesteek, want Wilkoppies Buurtwag het berig dat die 17-jarige moontlik ‘n ontvoering vrygespring het. Inwoners het geskok gereageer, want is dit nou wat in ons woonbuurte gebeur? Later, is die voorval toe as ‘n verbroude rooftog afgemaak en intussen is die plasing van Facebook verwyder. Dit het baie vrae laat ontstaan...

Klerksdorp Rekord het uitgevind die seun is in matriek in Hoërskool Wesvalia en ontvang sielkundige behandeling na die voorval. Sy ma, wat nie hul identiteit wil bekendmaak nie, sê hulle wag nog steeds op die polisie nadat die voorval helder oordag op Donderdag 12 November plaasgevind het. Die polisie was wel op die toneel, maar geen saak is aanhangig gemaak nie.

Die seun is te getraumatiseer om met die media te praat. Sy ma is egter oortuig daarvan dat dit beslis ‘n ontvoerpoging was “want niks is gesteel nie”.

Sy vertel dat haar seun gedraf het toe dit gebeur het. “Hy het gesê drie mans het uit ‘n Mercedes-Benz gespring, hom geboei met ‘cable ties’ en in die kar geboender. Hulle het glo sy horlosie probeer afruk. Sy was verbaas dat dit kan gebeur want haar seun is groot gebou.

Volgens haar het die mans hom glo aan sy hemp rondgeruk en sy hemp geskeur. “Toe hy ontsnap, het die hemp afgeskeur. Hy het nog steeds sy ‘cable ties’ aangehad terwyl hy huis toe gehardloop het. Hy is nie beseer nie,’’ het sy gesê.

Sers Amogelang Malwetse, polisiewoordvoerder, het gesê sy sal navraag doen oor die voorval.

UA-34805051-1 UA-34805051-1