Bokslagter wen prys vir beste snor

Posted in Latest News

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Met daardie weglêsnor was Hannes Reyneke van die begin af ‘n wenner.

Hy het Klerksdorp Rekord se spogsnor-kompetisie loshande gewen en is daarmee R1 000 ryker. ‘n Geldjie waarmee hy homself en sy Tjerrie gaan bederf, sê hy.

Hannes se Tjerrie is vroulief Ragel wat al vir 47 jaar haar daaglikse brood met hom deel. “Ek glo nie my Tjerrie het my al ooit sonder ‘n snor gesien nie,’’ lag Hannes. Hy vryf gemoedelik oor die gryswit harige bolip. Die snor groei welig en eindig aan elke punt in ‘n flambojante krul.

Hannes is gesteld op ‘n netjiese, skoon snor. “Ek weet ek het ‘n mooi snor, al moet ek dit nou self sê,’’ sê hy met ‘n vonkel in die oog. Hy is die kat se snor wanneer dit by snor kompetisies kom en het al ‘n hele paar wenne agter die blad. Ongelukkig het hy die snor ook al ‘n paar keer “lewendig verloor’’ en moes hom al twee keer afsny nadat dit aan die brand geraak het. Maar dit is ‘n storie vir ‘n ander keer, lag Hannes.

Hy is ‘n Klerksdorper gebore en getoë. Hy het die afgelope Sondag sy 68ste verjaardag gevier en vertel hy is van Klerksdorp se oorspronklike bokslagters uit Elandsheuwel. “Reynekestraat is na my oupa vernoem. Ons is die bokslagters waarna die woordeboek verwys as inwoners van Klerksdorp,’’ sê hy ernstig. “Ek is al die koning van die bokslagters genoem.’’

Hannes en Ragel woon in Jonesstraat in Roosheuwel waar hulle hul kinders grootgemaak het en vandag met hul kleinkinders in die groen tuin speel. “Ek wil net vir almal bedank wat vir my gestem het. Ek is baie dank verskuldig. En dankie aan Klerksdorp Rekord,’’ sê hy.

l November is deesdae bekend as Movember - ‘n verwysing na moustache en ook om mans bewus te maak van hul gesondheid, en om veral aandag te vestig op prostaatkanker en ander kankers wat mans affekteer. Deesdae fokus dit ook op geestesgesondheid en voorkoming van selfmoord.

UA-34805051-1 UA-34805051-1