Is daar nog tyd vir huissport die jaar?

Posted in Latest News

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die kanse is groot dat huissport en ander atletiekbyeenkomste wat gewoonlik plaasvind sodra die skole begin, nie vanjaar gaan plaasvind nie.

Weens die Covid-19 pandemie is ander skolesporte ook in gedrang en word daar berig dat skolerugby moontlik eers in Junie weer gespeel sal word. Klerksdorp Rekord het met onderwysers by ‘n paar hoërskole in die stad gepraat en hulle het gesê vergaderings word vandeesweek gehou om die impak van die regulasie 3-inperkings op skoolbedrywighede te bespreek.

Onderwysminister Angie Motshekga het verlede week aangekondig dat skole eers op 15 Februarie mag heropen. “Op die stadium sien ek definitief niks deelname in die onmiddelike korttermyn nie. Atletiek Suid-Afrika het atletiek vir eers opgeskort,’’ het KHS se Leon Bevan by navraag gesê (sien berig op sportblad).

Hy het gesê die inperking het beslis ‘n inperking op sport en sosiale aktiwiteite by die skole aangesien akademie voorrang sal geniet sodra skole begin. “KHS gaan die week amptelik met ouers korrespondeer en ons gaan aanlyn klas gee. Onderwysers het reeds met voorbereiding begin,’’ het Bevan gesê.

KHS se tennisproewe vir verskillende grade wat vandeesweek sou plaasvind is ook afgestel.

Die laaste skolesport is op 14 Maart 2020 gespeel en jong sportlui is uitgehonger vir die nuwe seisoen. Ouers is bang hul kinders verloor motivering om aan sport deel te neem aangesien hulle nie die kans kry om kompeterend deel te neem nie.

Onderwysers keer op 1 Februarie terug skool toe, maar bestuurspersoneel keer reeds volgende week terug om toelatings en admin rondom leerlinge te finaliseer.

UA-34805051-1 UA-34805051-1