Ma pleit na baba se skokdiagnose

Posted in Latest News

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - “Ek weet nie hoekom gebeur die goed met ons nie,’’ sug Adelie van Staden oor die foon.

Die jong ma van Orkney is moedeloos en reik nou uit na die gemeenskap om haar babaseuntjie se lewe te help red. Dihandré is op 4 November 2020 gebore. Hy is twee weke gelede met Craniosynostosis-scaphocephaly gediagnoseer.

“Toemaar, ek moes dit ook gaan google. Dit beteken sy kopbeen het klaar gefuse, daar is nie meer plek vir sy brein om te groei nie. Ons kan nie langer wag met die operasie nie, hy kan breinskade opdoen of selfs doodgaan,’’ sê Adelie.

Baba Dihandré is vir Adelie haar reënboogbaba, “omdat hy gebore is na ‘n miskraam’’. “Hy was gesond en het al sy mylpale bereik, maar iets was tog vir my vreemd aan hom. Sy kop was langwerpig, amper soos ‘n football en daar was ‘n rif op sy kop. By Klerksdorp Hospitaal het die susters en dokters gesê dis normaal en sal regkom met tyd. Met sy ses weke ondersoek het die klinieksuster nog gesê ek is verniet bekommerd,’’ sê Adelie.

Dit het haar bly pla en in Februarie het sy ‘n pediater in Potchefstroom besoek. Hy het Dihandré vir ‘n CT Scan gestuur en toe kom die skok diagnose.

“Wat kan ek maak? Ek bid heeltyd en vra vir genade vir die klein lyfie. Ons kinders is eers van Mei af op die mediese fonds, maar hy het dringend die operasie nodig. Dit kan nie wag tot dan nie.’’

Adelie vertrou nie die staats mediese sorg nie nadat hulle so lank gesê het daar is niks fout met haar baba nie. Nog ‘n probleem is dat ouers nie by kinders kan bly as hulle by Chris Hani/Baragwanath opgeneem word nie “en ek kan nie my baba net daar aflaai en hoop vir die beste nie’’.

Intussen dink die familie oortyd aan fondsinsamelingsidees en het Adelie se ma verwoed begin jaffles bak en verkoop. Hulle maak ook armbandjies om te verkoop. Maar dit is ‘n druppel in die emmer van wat nodig is vir die operasie. “Enige bydrae, klein of groot sal help. Asseblief.”

Kyk op Facebook by Dihandré’s Journey with Craniosynostosis-scaphocephaly of skakel Adelie by 072 511 2433.

UA-34805051-1 UA-34805051-1