Nie ’n bang haar op dié blondekop nie

Posted in Latest News

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Sy lyk dalk nie soos ‘n Tawwe Tienie nie, maar Clarisha Duminy laat nie sommer toe dat daar met haar gemors word nie.

Die fikse blondekop laat haar veral nie afskrik deur grypdiewe nie. Op Maandag 1 Maart was sy vir die tweede keer binne vyf weke ‘n slagoffer van ‘n grypdief in die Klerksdorpse middestad en nog elke keer het die dief tweede gekom en het sy haar gesteelde eiendom teruggekry.

Clarisha lag skaam en sê sy reageer net op instink. “Ek is ‘n bietjie van ‘n waaghals, en sal beslis nie mense aanraai om sommer te doen wat ek gedoen het nie. Die adrenalien het ingeskop en ek het gehardloop, maar dit kon seker baie anders ook geëindig het. Wat as die dief ‘n mes gehad het?,’’ vra sy grootoog.

‘n Grypdief het haar selfoon uit haar hande gegryp terwyl sy op die hoek van Noord- en OR Tambostraat by ‘n rooi verkeerslig gewag het. Haar ouers was saam met haar in die motor en die ruite was oopgedraai teen die hitte.

“Ek het net daar my skoene uitgeskop en die mannetjie agterna gesit. Ek kon net nie toelaat dat hy my selfoon vat nie. Daar is seker 30 000 foto’s op my selfoon en al daardie memories is onvervangbaar,’’ gesels sy.
Sy is straat af, om ‘n draai en toe in ‘n woonstelblok in waar sy die dief sien verdwyn het. Sy het hom die trappe op gevolg en vinnig ingehaal, want as atleet is sy nogal fiks.

“Dit was nogal donker en ek was skrikkerig, maar ek is die trappe twee-twee op. So ‘n paar stelle trappe op toe sien ek my foon lê daar. Mooi neergesit. Ek het die foon gevat en omgedraai,’’ sê sy.

Onder gekom het die publiek wat saamgedrom het weens die opwinding, spontaan begin hande klap toe sy haar selfoon omhoog hou. “Almal is moeg vir misdaad. Hulle was bly ek het my foon terug, maar niemand het eintlik probeer help of iets nie. Mense is maar bang.’’

‘n Paar weke gelede het Clarisha ook ‘n grypdief ingehol toe hy saam met haar en haar ma in hul motor klim na inkopies in die middestad. “Hy het die sak met nuwe hempies wat ek gekoop het, gegryp en weggehardloop. Ek het hom ingehaal en hy het die sak laat val, toe kry ek my hemde terug.’’

Clarisha (25) het nie ‘n bang haar op haar kop nie en is ‘n gekwalifiseerde elektrisiën.

Sy beskryf die grypdiewe as doodnormale mense wat netjies aangetrek is. “Wees maar versigtig in die middestad, hulle is oral.’’

UA-34805051-1 UA-34805051-1