"NW beleef munisipale krisis" - Afriforum

Posted in Latest News

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - AfriForum het vandeesweek tydens ’n mediakonferensie die Sentrum vir Plaaslike Regering van stapel gestuur en daarmee saam die Noordwes Munisipale Indeks bekendgestel. Dr Eugene Brink, bestuurder van dié navorsingsentrum, sê Suid-Afrika verkeer al ’n wyle in ’n munisipale krisis en daarom is die soeke na antwoorde en die vervulling van ’n waghondfunksie nou belangriker as ooit.

“Minder as 10% van Suid-Afrika se munisipaliteite ontvang skoon oudits en meeste van die skoon oudits word in slegs een provinsie, naamlik die Wes-Kaap, aangeteken. Soos hierdie verslag aandui, is landelike provinsies soos Noordwes veral in die moeilikheid.”

Hy sê uit die beskikbare data is dit duidelik dat die ANC niks omgee vir dienslewering en die goeie bestuur van Noordwes se munisipaliteite nie. “Swak oudits en wanbesteding is aan die orde van die dag en verbeter eenvoudig nie. Terwyl behuising se syfers taamlik goed lyk, is dit ’n provinsiale bevoegdheid en nie munisipaliteite s’n nie. Die toestand en gehalte van vullisterreine, vullisverwydering, drinkwater, riolering, asook die werkloosheidsvlakke dui als op ’n langstaande krisis.”

Luidens die verslag “gaan dit nie goed’’ met die Matlosana Munisipaliteit nie. Gevaarligte flikker reeds ‘n geruime tyd en onreëlmatige uitgawes en verkwistende besteding maak die stad bankrot. “Die inligting in hierdie verslag behoort voldoende te wees om onteenseglik te toon dat die provinsie ’n munisipale krisis beleef.’’

Volgens Brink is die idee van die sentrum om spesialissteun vir die werksaamhede van AfriForum Gemeenskapsake (GMS) te bied. “Die sentrum gaan plaaslike selfbestuuropsies vir gemeenskappe ondersoek en ook navor-sing doen om die ware toestand van munisipaliteite toe te lig. Laasgenoemde sal sake soos munisipale korrupsie en dienslewering aanroer. Dit sal dus as sowel ’n intellektuele voertuig vir selfbestuur as ’n munisipale waghond optree.”

Brink sê die plaaslike verkiesing vind vanjaar in ’n tyd van groot ekonomiese agteruitgang plaas. “Dit gaan reusedruk op munisipale begrotings plaas en die staat was reeds voor die COVID-19-pandemie nie in staat om als te doen nie.

“Dit gaan net versleg en gemeenskappe sal noodwendig self oplossings moet soek want stem gaan nie alleenlik die antwoorde bied nie.” 

Brink sal in die volgende paar weke as gasspreker oor verskeie aktuele sake in talle Noordwes-dorpe optree. Spesifieke datums en plekke sal mettertyd bevestig word. Hou die pers dop.

UA-34805051-1 UA-34805051-1