Orkney swig onder misdaad

Posted in Latest News

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Misdaad in Klerksdorp, Orkney het gestyg terwyl Stilfonteiners blyk in ‘n veiliger omgewing te woon nadat die SAPD die misdaadstatistiek vir die vier maande tussen April en Junie 2021 bekendgemaak het.

Orkney spog met die hoogste moordsyfer (13) wat in die 4 maande gepleeg is en 12 sake van poging tot moord wat ondersoek word. Dit kan natuurlik toegeskryf word aan die onwettige mynboubedrywighede wat die Orkney-gemeenskap bloots ry. Ander misdaad op die myndorp het ook ‘n styging getoon met die ooreenstemmende tyd verlede jaar met inbrake by huise wat ‘n styging van 56% toon. Diefstal uit motorvoertuie (24) en inbrake (39) het ook skerp gestyg.

Die Orkney gemeenskap het op twee geleenthede vanjaar al hul misnoeë met polisiëring op die dorp uitgespreek weens die hoë misdaadsyfer. ‘n Reuse taak wag op die nuwe stasiekommissaris van die dorp, lt kol Willie Landman wat die maand oorneem by lt kol Hans Badenhorst wat na Stilfontein SAPD verplaas is.

In Klerksdorp is 5 moorde gepleeg en 3 op Stilfontein. In Klerksdorp het roof met verswarende omstandighede (95), roof (41), aanranding (91) en diefstal uit motorvoertuie (131) gestyg wat waarskynlik is weens die probleem in Klerksdorp se middestad met grypdiewe wat voetgangers en motoriste in die sakekern teiken.

Die misdaadsyfer op Stilfontein toon nie drastiese stygings nie behalwe dat inbrake by huise (21) en besighede (11) steeds kommerwekkend hoog is.

UA-34805051-1 UA-34805051-1