Kyla veg teen borskanker

Posted in Latest News

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Jong ma van ‘n 4-jarige seuntjie se lewe het twee maande gelede heeltemal verander en nou, na vele beproewings, wil sy net gesond word en aangaan met haar lewe.

Kyla de Kock (27) is in Augustus met graad 3 borskanker gediagnoseer en het reeds ‘n dubbele mastektomie gehad. “Die vroue in my familie het knoppe in hul borste en ek het nie gedink dit is gevaarlik nie. Ek het bloed in my bra gekry en begin stres. Dit het ‘n week geduur - van dokter toe, mammogram, biopsie en diagnose,” sê Kyla.

“Ek sien die dokter weer op Donderdag 14 Oktober. Ek moet nou met chemoterapie begin, maar die wonde moet eers opklaar met geen infeksie nie. Die dokter wil so gou moontlik met behandeling begin,” het sy aan Klerksdorp Rekord vertel.

Volgens Kyla kan sy nie na Klerksdorp Hospitaal se onkologie-eenheid gaan nie aangesien die staat nie die tipe chemoterapie vir haar behandeling het nie. Sy moet bestraling ook kry. Vriende en familie het met verskeie fondsinsamelingsprojekte begin om vir haar behandeling te betaal wat privaat gedoen moet word. Sowat R63 000 is reeds vir haar ingesamel en R97 000 word nog benodig.

Sy en haar vriend, Tiaan Swart, het al derduisende rande opgedok en ‘n vriendin, Louret Jooste, staan haar by met fondsinsamelings wat reeds by verskeie plekke aangebied is.

Een so ‘n insameling vind op 6 November by ‘n plaaslike restaurant, Vai Piano plaas waar Bonnie Jackson haar nuwe CD sal bekendstel. Almur Marias en Rinaldo Kritzinger sal ook optree en Robert Thirtle sal sy kuns uitstal. Die byeenkoms sal om 18:00 begin en kaartjies is by 071 477 2033 te koop.

Volg gerus Kyla se pad na herstel en watter fondsinsamelings jy kan ondersteun op die Facebook-blad, Kyla’s Journey.

UA-34805051-1 UA-34805051-1