Pêrel nou in God se kroon

Posted in Latest News

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Hartseer nuus het Klerksdorpers vroeg vandeesweek begroet met die nuus van die afsterwe van ‘n jong kankerlyer wat dapper geveg het teen die siekte.

Die Steenkamps het vyf jaar gelede gehoor hul enigste dogter het ‘n paar weke oor om te leef nadat aggressiewe kanker by haar gediagnoseer is. Milandri was vier jaar oud. Sy en haar ouers, Kobus en Leandrie het dié doodstyding nog telkemale die afgelope vyf jaar gehoor.

Elke keer het Milandri almal verbaas. Sy het selfs skoolgegaan en met haar petite lyfie en vriendelike glimlag harte verower waar sy ookal gaan. Haar ouers het berge versit om vir haar die beste moontlike mediese behandeling ter wêreld te kry.

Maar begin Desember 2021, nadat sy inwendig begin bloei het en nog ‘n ernstige operasie moes ondergaan, is sy huistoe gestuur om daar, omring met haar geliefdes, te sterf. Kobus en Leandrie het die tyding Maandagoggend 10 Januarie gedeel. ‘’Ons liefste Miems het Sondag 9 Januarie om 23:00 haar stryd gewen.

“Sy’s veilig in God se arms.’’

Boodskappe van medelye van regoor die wêreld stroom steeds in. Dit hou die Steenkamp-egpaar en hul twee seuns, onderskeidelik 11 en 7 jaar oud, regop in hierdie moeilike tyd. Hul dogter en sussie word Donderdag 13 Januarie begrawe.

“Ons is so dankbaar vir die verskil wat sy aan ander se lewens gemaak het. Ons kry vertroosting daarin dat sy verlos is van haar lyding, pyn en ongemak hier op aarde. Baie dankie vir almal se meelewing,’’ het Kobus gesê.

UA-34805051-1 UA-34805051-1