Slagoffer sterk aan na messteek

Posted in Latest News

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die man van Stilfontein wat verlede naweek by ‘n kuierplek in Klerksdorp met ‘n mes gesteek is, kan al opstaan en loop.

Tiaan Vos het op Dinsdag 10 Mei vir die eerste keer uit sy hospitaalbed opgestaan. Volgens sy suster, Suné Pawson, het hulle ‘n paar dae gelede nog vir sy lewe gevrees. Sy het op sosiale media geskryf “so trots op jou my bul. Jy is regtig ‘n sterk man. Ek’t nie gedink dit sal so vinnig gebeur nie, maar jy wys ons verkeerd. Jy is ń champ”.

Tiaan was op 29 April in ‘n kroeggeveg by Oelies betrokke en hy is buite die kuierplek in Elandsheuwelstraat twee keer met ‘n mes gesteek. Die een messteek was in sy hart.

Hy is eers in die Life Anncron hospitaal behandel en is later na Tshepong Hospitaal oorgeplaas. Hy was Maandag 9 Mei nog onder verdowing.

Die polisie het nog niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Volgens Suné het die messteker gevlug.

Sers Amogelang Malwetse, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie ‘n saak van poging tot moord ondersoek.

“Die messteker is nog soek. Die ondersoek duur voort,” het sy gesê.

UA-34805051-1 UA-34805051-1