Skoolseun sterf na botsing

Posted in Latest News

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Gesin van die stad is verpletter na die dood van hul begaafde jongste kind wat in ‘n fratsongeluk van sy fiets gery is.

Mark Lavin het op Sondagmiddag 24 Julie oudergewoonte op sy fiets geklim om fiks te bly vir die rugbyseisoen. Hy het nie ver gery nie toe ‘n motoris hom in ‘n kruising op die N12 tref. Volgens ooggetuies het die bestuurder van die motor oor ‘n rooi verkeerslig gery. Die sestienjarige seun en sy fiets het die windskerm getref en hy het ernstige hoofbeserings opgedoen.

Mark het op Saterdag 30 Julie in die Milpark-hospitaal in Johannesburg aan sy beserings beswyk. Volgens sy ouers het die swelling op sy brein nie gesak nie. Sy milt is ook geskeur en hy het sy linkerarm sleg gebreek.

Hoërskool Schoonspruit waar Mark ‘n gr 10-leerling was, is in rou gedompel na die nuus oor hul skoolmaat se afsterwe. Waarnemende hoof Anca Swart het gesê Mark “was net een van daai kinders wat as hy in ‘n klas instap, dit is asof daar ‘n lig aangegaan het. Hy was baie gewild en sy voetstappe sal nog lank in ons skool se gange gehoor word.’’

Mark was lief vir rugby en sy rugby-afrigter het hom beskryf as ‘n uithouer en aanhouer. “Mark het nooit opgehou speel nie tot die eindfluitjie geblaas het. En dan het hy sy alles gegee.’’ Hy het vir die skool se o/16 B-span gespeel.

Die begaafde seun het ook uitgeblink met sy vaardighede in die tegniese sentrum by die skool en het al van ‘n jong ouderdom in motorwerkswinkels gewerk. Die dag van die ongeluk het hy dit nog reggekry om ‘n afgeleefde motorenjin wat onderwysers die Vrydag by die skool vir hom gegee het, weer aan die gang te kry, het Anca gesê.

Dit was sy droom om motorwerktuigkundige te word en sy liefde vir motors uit te leef.

‘n Roudiens vir Mark word op Donderdag 4 Augustus in die Morester gemeente gehou. Hy word oorleef deur sy ma, Jacky, ‘n onderwyseres in Klerksdorp, stiefpa Leon Erasmus, ouboet Steven (19) en pa, Paul Lavin.

Sers Amogelang Malwetse, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ‘n klag van strafbare mansslag teen die bestuurder van die motor ondersoek word.

UA-34805051-1 UA-34805051-1