Botsing eis tiener week voor matriekuitslae

Posted in Latest News

Klerksdorp Rekord, Orkney - Lang gras op die middelbaan was waarskynlik die oorsaak van die botsing waarin ‘n agtienjarige seun verlede week dood is.

‘n Rooi Nissan Hardbody wat in die rigting van die Vrystaat gery het, het teen ‘n wit VW Golf gebots wat besig was om Carlyle in die rigting van Orkneypark oor te steek. Die vermoede bestaan dat Brendan Liebenberg nie die aankomende voertuig gesien het nie, omdat die lang gras sy sig belemmer het. Hy het nie die botsing oorleef nie.

Wat verder tot die bespiegeling bydra is dat munisipale werkers daardie aand die lang gras op die middelman in Carlyle by die kruising begin sny het. Bevin Ford, eienaar van die Caltex-vulstasie het bevestig dat die gras die aand van Vrydag 14 Januarie tussen 22:00 en middernag gesny is. Hy wil die munisipaliteit versoek om ‘n spoedwal by die kruising op te rig of dit in ‘n vierrigtingstop te verander.

Vir pa Japie en ma Rika van Addisonstraat in Orkney, is hul jongste seun se dood ‘n bitter pil om te sluk. Hulle woon skaars 2 km van die ongelukstoneel af en hy was onderweg om wegneemetes in Orkneypark te gaan oplaai. Rika het gesê sy het hom gestuur voordat hy vir sy meisie, Diané Duminy (17) sou gaan kuier.

Die twee is al ses maande ‘n paartjie en het net oë vir mekaar gehad. Brendan het verlede jaar matriek geskryf by Hoërskool Schoonspruit en het angstig gewag op sy uitslae. Hy het beplan om IT-ingenieurswese aan Centurion Akademie te gaan studeer. “Hy het soveel planne gehad vir sy toekoms. Lekker gedroom en daarna uitgesien om ‘college’ toe te gaan,’’ sê Rika. Haar man wat in die DRK werk, moes inderhaas reël vir ‘n vlug terug na Suid-Afrika toe hy die tyding kry. Hy was Sondag 16 Januarie terug by die huis.

Terwyl hulle Brendan se roudiens beplan onthou hul hom as ‘n stil kind wat lief was vir grappies maak. Hy het in Orkney grootgeword en was sy ma se oppasser nadat sy ouer broer uitgetrek het. “Hy was versot op rekenaarspeletjies en het daarvan gehou om vis te vang,’’ sê Rika.

Hoërskool Schoonspruit het Saterdagmiddag die nuus van Brendan se dood op hul Facebook-blad gedeel. Oudleerlinge en ouers het met skok op die nuus gereageer.

‘n Roudiens vir Brendan word op Donderdag 19 Januarie in die Hervormde Kerk Oudorp gehou. Die diens sal ook aanlyn gevolg kan word. Brendan word oorleef deur sy ouers en ‘n ouer broer, Michael.

Die bestuurder van die Nissan bakkie en sy twee kinders het ligte beserings opgedoen. Hy is van die Viljoenskroon-omgewing.

Adj-off Elize Kruger het bevestig dat ‘n klag van strafbare mansslag ondersoek word.

UA-34805051-1 UA-34805051-1